Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Wanneer die son saans sak, raak Merrimanstraat in George besig, want mense kom van heinde en ver om na die Kersliggies by 'n paar huise in die straat te kyk. In dié straat is van die min huise waar Kersliggies vanjaar aangeskakel is.
Met Kersliggies in Oewerstraat en die munisipaliteit se liggies in die middedorp wat nie vanjaar aangeskakel is nie, het 'n besoek aan die straat 'n gewilde uitstappie vir mense geword.
Toe George Herald Maandagaand die straat besoek het, het talle besoekers juis 'n draai gemaak om na die sprokieswêreld te kyk. Mense het verbygery en ander het gestop en foto's geneem.
Een van die huise, wat vanjaar net soos in die verlede baie aandag trek, behoort aan Johan van Greunen.
Hy het vertel dat hy 10 jaar gelede die eerste keer die liggies opgesit het. Sy eggenoot, Susan, het binne in die huis liggies opgesit. "Ek het toe besluit ek wil ook so-iets doen."
Hy het aan die werk gespring en buite liggies begin opsit. Aanvanklik op klein skaal, maar elke jaar het hy 'n bietjie meer opgesit.
Volgens Van Greunen doen hy dit vir die gemeenskap. Hy kan sien dat dit baie beteken vir kinders en bejaardes. "Ek wil mense gelukkig maak."
Die liggies trek baie aandag en daar was al selfs mense uit die buiteland wat kom kyk het.
Verlede jaar het hy al in Oktober begin om dit op te sit, maar vanjaar het hy eers in Desember begin.
Elke jaar sê hy dis die laaste keer en dan doen hy dit weer. Hy dink egter vanjaar is wel die laaste keer.
Van Greunen weet nie presies hoeveel liggies hy het nie. Daar is duisende en dit kan selfs miljoene wees.
Sy seun, Charl, wat 'n entjie laer af in die straat woon, sit ook liggies op. "Ons bly nou in dieselfde straat en die kompetisie is bietjie groter," het Van Greunen gespot.
Van Greunen is van voorneme om die liggies aangeskakel te hou tot middel Januarie en mense is welkom om te gaan kyk.
Twee huise verder van hom woon Hennie Dreyer en sy gesin. Dreyer het vertel dis die tweede jaar wat hy dit doen. "Oom Johan het my geïnspireer. Dis 'n hoogtepunt van die jaar. Dit skep 'n spesifieke atmosfeer."
Hy is van voorneme om elke jaar bietjie meer by te sit.
Charl van Greunen het gesê hy sit dit al vier jaar op. "Ek doen dit vir my kinders. Die mense wat hier verby ry stop en dit verskaf blykbaar vreugde vir hulle."
Johan van Greunen en sy seun Charl by die se huis in Merrimanstraat.
IN SHORT: When evening starts, Merriman Street in George becomes busy. Here you will find a few houses with festive lights. The George Municipality and residents in Oewer Street have decided not to switch on their festive lights this year. Johan van Greunen's house in Merriman Street has many festive lights and attracts many visitors. It is the tenth year that he has put up festive lights.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'