Update
GEORGE NUUS - Niemand is nog in hegtenis geneem nadat daar Sondagaand by Denneoord Multisave ingebreek is nie. 'n Onbekende bedrag geld is gesteel na die verdagte(s) toegang tot die winkel deur die dak verkry het. Die voorval het omstreeks 23:30 plaasgevind.
Hulle het die alarmstelsel gedeaktiveer waarna hulle die OTM oopgebreek het. Die winkel se kluis is ook leeggemaak. Met die George Herald se aankoms op die toneel Maandagoggend was forensiese deskundiges, speurders en ander polisielede reeds besig om die toneel te fynkam.
"Dis nie regtig hoe 'n mens jou dag wil begin nie, maar ek probeer altyd die positiewe in elke situasie sien. Gelukkig het niemand seergekry nie," het die eienaar, George Vougdis, aan die George Herald op die toneel gesê.
In 'n afsonderlike voorval is daar verlede Woensdagaand, 23 Mei, by die Patria-kerk (ou Tramonto-gebou) in Geelhoutboom ingebreek. Twee verdagtes is vier dae later in verband met hierdie voorval in hegtenis geneem.
Die verdagtes in hul 30's, albei van Oudtshoorn, is in Mosselbaai vasgetrek na hulle die gesteelde items van George na Mosselbaai vervoer het. Die opsigter van die gebou het die polisie gekontak nadat hy daardie oggend omstreeks 07:00 agtergekom het dat die deur by die hoofingang van die gebou oopgeforseer is. Items ter waarde van sowat R6 500, waaronder 'n klankversterker, kruideniersware en elektriese toestelle, is gebuit.
Die verdagtes het gister, Woensdag 30 Mei, in die George-landdroshof verskyn. Teen druktyd was besonderhede rondom hul verskyning nog nie beskikbaar nie.
Die polisie was vroeg Maandagoggend reeds op die toneel na 'n inbraak by Denneoord Multisave. Foto: Kristy Kolberg.
* No arrests have been made after the break-in at Denneoord Multisave Supermarket last Sunday. The suspect(s) gained access to the building through the roof. They broke open the ATM and emptied the shop's safe. In a separate incident earlier last week, two men were arrested after a break-in at the Patria church in Geelhoutboom last Wednesday night. The suspects, both from Oudtshoorn, were arrested in Mossel Bay. They appeared in the George Magistrate's Court yesterday, Wednesday 30 May.
Lees 'n vorige artikel: Business break-in in Denneoord
'We bring you the latest George, Garden Route news'