Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Karwagte Irene en Willem Saayman, wat al byna nege jaar lank in die parkeerarea van Mediclinic George diens doen, sê hulle steur niemand nie en wil net in vrede gelos word.
Die paartjie sê daar was weer vanoggend ‘n insident toe Street Eyes se Barry Botha glo vir Irene lelik uitgeskel het omdat sy ‘n glimbaadjie aan het.
Volgens Botha mag net geregistreerde sekerheidswagte sulke baadjies dra. “Hy het haar ‘n teef genoem en wou weet waar sy die baadjie gesteel het,” vertel Willem.
Irene het aan George Herald gesê sy het die baadjies by iemand gekry wat vir die munisipaliteit werk. “En dit is nie sy besigheid waar ek dit gekry het nie. Wie gee hom die reg om my so lelik uit te skel? Mense het nog net goeie dinge te sê gehad oor ons.”
Barry sê vir hom is ‘n vroulike hond ‘n teef. “Daai woord is nie deel van my woordeskat nie, en glad nie om dit vir ‘n vrou te sê nie.”
Ook sê hy was daar nie ‘n insident om van te praat nie. “Dit is net snaaks vir my dat Willem en sy vrou nou na tien jaar dieselfde baadjies dra as my mense. Ek gaan dit wyd bekendmaak dat hulle nie vir my werk nie, want dis wat hulle aan mense vertel.” Hy sê hy dink ook Willem maak die res van die karwagte op teen hom. “Dis hy en sy vrou wat die opstokers is, nie die ander nie. Hoekom kon hulle nog tot dusver nie ‘n optog gereël kry nie?”
Willem wil binnekort saam met ‘n groep karwagte ‘n optog na die munisipaliteit reël om te vra dat Botha en sy werkers hulle in vrede laat.
Kyk 'n video hieronder.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'