GEORGE NUUS - Moniteer en bestuur oortyd beter, vul die leë poste en laat diegene wat die sisteem misbruik daarvoor boet. Dit is die mening van opposisielede in die George-raad.
"Ons spreek waardering uit vir die personeel wat werklik oortyd werk om diens te lewer, maar ons is terselfdertyd bekommerd oor die misbruik van oortyd," het die leier van die Plaaslike Besorgde Inwoners (PBI), Virgill Gericke, gesê. "Meer mense moet aangestel word, met meer werksgeleenthede om effektief diens te lewer."
Volgens Bazil Petrus van die South African Civils, is die moniteringstelsel wat tans gebruik word om oortyd te bestuur, nie voldoende nie. "Daar is werklik mense wat noodsaaklike dienste lewer om die dorp se dienslewering op 'n aanvaarbare standaard te hou, en dit word waardeer, maar dit wil voorkom asof die huidige stelsel manipuleerbaar is," het hy gesê. "Dit is 'n administratiewe funksie wat dringend aandag benodig."
ANC-raadslid Piet van der Hoven, se mosie oor die misbruik en wanbestuur van oortyd is deur die raad aanvaar. "Die munisipale bestuurder moet toestemming vir 'n ondersoek na beweerde onreëlmatige, onwettige eise en betalings vir oortyd in alle direktorate verleen, met spesifieke verwysing na Uniondale," lees die mosie.
Hy het die voorbeeld genoem van 'n waterlek in Uniondale. "Water lek vir drie dae lank en dan kom die span op 'n Sondagmiddag uit en kry dubbele oortydbetaling." In nog 'n geval het een werker blykbaar 491 uur oortyd gewerk. "Daardie werker het nie vir daardie maand geslaap nie," het Van der Hoven gesê. "Iewers moet daar beheer kom, en daar is nie beheer nie."
Tydens dieselfde raadsvergadering (25 Oktober) het Gericke in 'n dringende mosie aan die raad gevra dat die munisipale bestuurder op 'n 24 uur basis aan die burgemeester rapporteer om die gebruik van oortyd te monitor. Die burgemeester het in sy repliek bevestig dat daar so 'n moniteringsmeganisme in plek is.
Volgens Gericke het die PBI reeds in 2015 'n mosie ter tafel gelê vir 'n ondersoek na die misbruik van oortyd. "Die mosie is ondersteun en 'n ondersoek het gevolg. Daardie verslag het voor die raad gedien en baie ongeruimdhede is geïdentifiseer. Amptenare was veronderstel om aangekla te word, maar sedertdien het niks gebeur nie," het hy gesê.
"Nou sit ons egter weer met dieselfde situasie in 2017. 'n Massiewe klomp geld van die belastingbetaler word misbruik op oortyd. Die ironie van dit alles is dat niemand verantwoordelik gehou word vir hierdie wanpraktyke nie." Gericke voer aan die munisipaliteit handhaaf 'n kultuur van straffeloosheid. "Elke keer kom die oortreders skotvry daarvan af," het hy gesê. "Oortyd word gebruik as 'n melkkoei vir selfverryking."
Munisipale bestuurder Trevor Botha het gesê hulle is tans besig om hul oortydbestuurspraktyke te hersien.
"Dit sluit in die gebruik van toestelle (tyd en bywoning), verbeterde beheermeganismes en prosedures asook die korrekte kategorisering van oortyd." Botha sê 'n item sal hierdie maand aan die raad voorgelê word.
"Die burgemeester is toegewyd en vasberade dat die munisipaliteit 'n manier sal vind om oortyd beter te bestuur.
"Ongelukkig kan die herstel van netwerke na normale werksure nie vermy word tydens skade weens weerlig, storms en vloede nie. Enige munisipale beampte wat voordeel trek uit onwettige eise vir oortyd sal, indien skuldig bevind word, ontslaan word."
ANC-raadslid Piet van der Hoven.
Lees 'n verwante artikel: Oortyd 'n krisis vir raad
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'