GEORGE NUUS - Magdalena Louw (56) alombekend as Antie Macky van Rosemoor, het tot op hede 11 operasies ondergaan nadat sy in 2009 met borskanker gediagnoseer is.
Omdat kanker algemeen in hul familie is, het sy besluit om 'n dokter se opinie te kry nadat 'n ongewone swart afskeiding uit haar regtertepel gekom het.
Haar ma is 'n borskankeroorwinnaar en haar suster het aan maagkanker gesterf.
Tevergeefs was daar geen ongewone verskynsels in die mammogram en sonar sigbaar nie. Nadat die afskeiding steeds voortgeduur het, het sy besluit om haar bra na die spesialis by George-hospitaal te neem om dit self te besigtig.
Haar woorde aan die dokter was: "Dokter dis onmoontlik dat hier 'n vloeistof by my tepel uitkom en ek borsvoed niemand."
In 2010 het sy 'n mastektomie ondergaan om te verhoed dat die kanker versprei en met chemoterapie begin.
Sy sê haar drie kinders, twee seuns onderskeidelik 27 en 37 jaar oud, en haar 17-jarige dogter, het haar siekte moeilik verwerk.
Sy het haar eggenoot in 2000 aan die dood afgestaan.
"Dit was moeilik vir my kinders om hul ma so siek te sien. My een seun het teen daardie tyd getrek, maar het gereeld kom inloer om te kyk of ek nog 'okay' is. Elkeen van hulle en my ma het my maar verdra toe ek ongeduldig en puntenerig was."
Antie Macky het 'n stert van haar rooi hare as herinnering gehou.
Haar ervaring tydens behandeling
"Dit was nie lekker nie, maar ek het nooit moed verloor nie. Soms het ek geen eetlus gehad nie, saans kon ek nie slaap nie, en my vel het soos 'n lemoenskil gevoel na chemoterapie. Wanneer ek vir drie ure chemo moes ontvang, kon ek daardie koue vloeistof vanaf my kop tot my voete voel beweeg."
Wanneer sy moedeloos gevoel het, het sy haarself herinner dat haar eie ma ook die stryd teen kanker oorwin het.
Antie Macky vertel dat sy altyd aktief wou bly. Sy het oefeninge gedoen, in die tuin gewerk en elke jaar deelgeneem aan die Cansa Relay For Life-geleenthede, want sy wou mense wys dat dit moontlik is om gesond te leef met kanker.
In Julie vanjaar het sy die blye tyding ontvang toe sy hoor sy is genees van haar agt jaar lange stryd teen borskanker. Haar boodskap aan ander vroue wat borskanker het, is om nooit moed te verloor nie, gesond te eet en enige stres te vermy.
Opvoedkundige feite oor borskanker. Foto: Kansa
"Moenie terugval nie. Praat met mense en vra vrae. Leef sodat ander kan sien dit kan genees word, en dat dit nie die einde van die lewe is nie. Haak mekaar in, want tye is soms donker, maar daar sal weer lig wees."
Een uit elke 24 vroue in Suid-Afrika loop die risiko om met borskanker gediagnoseer te word.
Indien iemand meer inligting verlang rakende borskanker kan hulle Kansa by 044 874 48 24 skakel.
Kansa is 'n nie-winsgewende organisasie wat steun en inligting bied aan persone met kanker.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'