OUDTSHOORN NUUS - Kango Wines (Edms) Bpk in Oudtshoorn is Vrydag in die hooggeregshof in Kaapstad gelikwideer.
Die aansoek is deur die Kango Koöperasie, wat 74.9% van Kango Wines besit, gebring.
Volgens Louis du Preez van Werksmans Prokureurs in Kaapstad behoort die orige 25.1% aan SEB-aandeelhouers en is die grootste uitdaging nou om ‘n koper vir die bankrot onderneming te vind. "Sowat 70 poste is in die gedrang. Kango Wines is kommersieel insolvent wat beteken dat hulle nie betyds hulle skuld kan betaal nie."
Hy het gesê ‘n likwidateur sou teen gister aangewys word.
In die likwidasie-aansoek word ‘n sakeman van Oudtshoorn, Johan Brits, aan die kontantvloei-pro-bleem gekoppel en die polisie ondersoek die saak. Brits was die bestuurder van Kango Wines sowel as van die koöperasie.
Kango Wines skuld die koöperasie bykans R9 miljoen - geld wat nodig is om druiweboere in die omgewing vir gelewerde produkte te betaal.
Die ontvanger van inkomste word ook miljoene geskuld en ander skuldeisers sluit in die werknemers en die Landbank.
Du Preez sê die likwidateur sal poog om ‘n transaksie met ‘n derde party te beklink en sodoende die plaaslike afsetpunt vir boere te behou.
Intussen is die Kango Wines-werknemers verlede Donderdag huis toe gestuur en hou Johan Schreuder as waarnemende algemene bestuurder die fort.
Schreuder is optimisties dat hulle spoedig goeie nuus sal hê. "Elke keer as die foon lui dan spring my gemoed vol hoop. Kango Wines het baie potensiaal en is in ‘n unieke posisie as gevolg van sy geografiese ligging. Ons is presies in die middel van Port Elizabeth en Kaapstad en vervoerkostes is deesdae van deurslaggewende belang."
Die koöpersie bottel reeds sedert 1975 wyn en het in 2005 die bottelary- en bemarkingsbeen in Kango Wines herstruktureer.
Kango Wines se Kango Cabernet Sauvignon/Shiraz/Merlot 2006 ver-snit het ‘n goue medalje by die Switserse Internasionale Lugdiens-wyntoekennings gewen en is ook aangewys as die lekkerste wyn onder R60.
Van Kango se ander bekende handelsmerke is Baroness, Rijckshof, Sacramento, Van Hunks, Heerenhof en Donker Bok.
ARTIKEL: ILSE SCHOONRAAD