TUINROETE NUUS - Kaartjies vir die gewilde jaarlikse Vrouedag van Outeniqua Dames Aktueel op 14 September is nou beskikbaar.
Dit word by Eden Place buite George gehou en die tema is 'Borrel en Bruis'. Die oggend skop af met Carpe Musicam en die dansskool, Soul to Sole.
As gaskunstenaar tree George se eie immergewilde Elvis Blue op.
Die gasspreker is Myan Subryan, 'n motiveringspreker, maar ook die skrywer van onder andere Pierre Spies, Chad le Clos en Jannie de Beer se biografieë. Hy is ook 'n lewensafrigter vir besighede en sportspanne en het suksesvol met krieketspanne en verskeie Olimpiese atlete saamgewerk asook verskeie rugbyspanne onder andere die Leeus. Myan se tema vir die dag is 'Christenskap, Afrikaans en rugby is nie boos nie'.
Nog 'n gewilde plaaslike kunstenaar, Michael Lindt, tree op as seremoniemeester.
Dan bevat die program 'n heerlike geselstyd met Heinrich (Ollie) Terblanche oor koffie en Kelly Fourie-Barnard, 'n prokureur van Mosselbaai oor testamente.
Johny Klein, 'n bekende verhoog- en radio-akteur van RSG het vir hom 'n plek in die harte van die luisteraars in gelees met sy komiese voorlesings. Hy tree ook in die middagvervolgverhaal, Bure, op. Hy gaan van Ferdinand Deist se Sandveldstories voorlees.
Die kaartjie sluit 'n ligte ontbyt en 'n smaaklike middagete in. Gaste kan vooraf tussen pragtige uitstallings rondsnuffel en elkeen ontvang ook 'n lekker verrassingsak.
Kaartjies kos R350 en is te kry by Magdaleen Smook by 044 873 6568 of 074 977 1986.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'