Dit is by sy ma, Mary (38) se huis in Stompneusstraat gehou en dit was 'n glansmoment toe hy, uitgevat in sy mooi, swart aandpak uit die motor geklim het. Met sy aankoms is hy spontaan toegejuig soos 'n wafferse held en meer as een omstander het hoendervleis gekry toe sy ma met trane vlak in haar oë nader gestaan het om hom te verwelkom.
Gewis 'n dag wat hulle nie gou sal vergeet nie.
Hy is ook deur die luide, polsende musiek en omroepers van EDENfm begroet. 'n Span was daar om musiek te verskaf by Mary se eenvertrekhuis. Die Parkdene-hoërskoolseun was nie heeltemaal die heldeverwelk-ming te wagte nie, en het skaamweg geglimlag. "Ek voel soos 'n celeb," het hy erken. Gelukkig het hy weer gou sy spraak teruggevind en 'n kort en bondige toespraak gegee. Hy het sy ma, 'n enkelouer wat baie harde bene gekou het om hom tot by matriek te kry, bedank vir al haar opofferings. Hy het 'n spesiale woordjie van dank aan sy tante, Hermien Hendricks, vir haar hulp en bystand deur die jare gehad en ook vir die bure.
Maraiskampers moet taai wees. Die woonbuurt het al soveel keer oorstroom dat almal al deurgeloop en telkens vloedskade aan hul karige besittings moes verduur het. Maar Donderdag was al die ellende vergete, en het almal nader gestaan om die oomblik te geniet en van oor-tot-oor te glimlag.
Die hele middag was een van afwagting. 'n Skare van mense het nader gestaan om die radiomense wat hul uitsaaitoerusting en banier opgestel het gade te slaan. Mary het haar 'kooi' uitgeskuif en die bure se netjiese, swart, blink eetkamerstel is in haar huisie ingedra. Die rooi en goue glase en vonkelwyn is feestelik op die tafel geplaas saam met grondboontjies en rosyntjies - als in gereedheid vir die voorafpartytjie vir Justin.
Terwyl ons gewag het vir Justin se aankoms, het Mary vertel dat sy as alleenouer dikwels nie kos op die tafel kon sit nie aangesien sy haar werk by 'n George-fabriek verloor het toe sy gegly en geval het. 'n Ou besering wat sy opgedoen het in 'n Kaapse kinderhuis waar sy groot geword het, het toe weer begin lol en sy is tans in te veel pyn om te werk. Om te sorg vir Justin en sy boetie, Fernod (5) is dus steeds 'n oorlewingstaak. Sy het nie eers die geld om 'n slot op haar agterdeur te plaas nie. Sy glo met die genade van die Here sal hy sy matriek slaag.
Mary het volhard, en dit op Justin se hart gedruk dat hy moet "fokus en leer vir matriek" en vergeet van die meisies. Justin is dus alleen na die Parkdene Hoërskool se matriekafskeid ná die woonbuurtpartytjie.
"Ek is trots op jou Justin," het Mary gesê toe sy die skare toespreek oor 'n mikrofoon.
'n Buurvrou het die verrigtinge só opgesom: "Ek bewonder hom vir sy deursettingsvermoë - dit was nie maklik nie. Gelukkig is hy 'n slim seun en het hy boonop in die rugbyspan gespeel. Sy ma het dit nie breed nie en ten spyte daarvan het sy dit deurgesien."
Justin gaan aansoek doen vir poste by die weermag en die polisiediens. Daar is sommer 'n hele woonbuurt wat vir hom duim vashou.
* A Parkdene High School matric learner, Justin de Jongh, received a hero's welcome at a party in which the whole suburb joined in. EDENfm DJs added to the celebration held at his mother's home in Maraiskamp. They cheered and admired him as he arrived in a shiny car, dressed in his smart matric farewell outfit. In George's poorest suburb it is a major achievement when one of their own makes it to matric and the whole neighbourhood will be rooting for him to land a job in the army or the police.

Justin de Jongh gee sy ma, Mary de Jongh (links) en sy tante, Hermien Hendricks (regs) 'n drukkie. Die sanger, Gregory Noble (ver regs) was ook by die partytjie.
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'