GEORGE NUUS - Vyf verdagtes wat vir die moord van die 21-jarige Breyton Botha aangekla word, verskyn weer op 5 Mei in die George-landdroshof vir 'n formele borgtogaansoek.
Botha is Sondagoggend, 23 April, omstreeks 00:20 in Proteapark doodgesteek toe hy en 'n vriend glo van 'n taverne in Rosemoor op pad was huis toe.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, dui die voorlopige inligting daarop dat die oorledene en 'n vriend vanaf 'n taverne na hul woning op pad was toe 'n groep jongmans hulle aangerand en Botha vermoor het. Die mans het glo oor 'n sigaret baklei.
"Tydens die bakleiery het die verdagtes die oorledene verskeie kere met skerp voorwerpe gesteek. Hy het steekwonde in sy bors en rug opgedoen en weens sy beserings het hy in die ambulans op pad na die hospitaal beswyk," sê Pojie.
Vyf verdagtes tussen die ouderdomme van 15 en 22 is later dieselfde dag in hegtenis geneem. Hulle het Maandag 25 April in die George-landdroshof op 'n aanklag van moord verskyn. Twee van die verdagtes is minderjarig en in die sorg van hul ouers vrygelaat.
Die ander drie bly in aanhouding. 'n Sesde verdagte is glo Dinsdagaand, 26 April, vasgekeer. Dit kon teen druktyd nog nie deur die polisie bevestig word nie.
Breyton Botha (21) was geliefd onder sy vriende en familie.
Geliefde kind
"My seun was 'n liewe kind en hy was lief vir die Here. Hy was altyd bereid om te help en het uit sy pad uit gegaan vir mense. Sy onsinnige dood is vir ons 'n groot skok," sê sy ma, Christina Botha.
Inwoners het haar kom roep kort na die voorval wat naby hul huis plaasgevind het.
"Toe ek daar kom toe lê my kind in die pad. Ek het hom vasgehou terwyl ons vir die ambulans gewag het en al wat hy gesê het was 'Mammie ek kry warm'," vertel sy ma. Sy was by hom toe hy in die ambulans onderweg na die hospitaal oorlede is.
Sedert 'n plasing oor die voorval op die Facebook-groep, Conville Community Police Forum (CPF) gemaak is, is talle kommentare met boodskappe van medelye aan Botha se familie gerig.
Toenemende geweld onder jongmense in dié gebied het ook onder die vergrootglas gekom en lede van die gemeenskap, Conville se GPF en plaaslike buurtwaglede het later daardie Sondagmiddag 'n gesamentlike bewusmakingsoptog teen misdaad in dié gebied gehou.
'n Roudiens word eerskomende Saterdag by die Dock Mission-kerk in Proteapark gehou. Die tyd moet nog bevestig word. Botha laat sy ma, sy pa, Frans Botha, ouer broer, Brandon Botha (26) en kleinboet, Marlon Naudé (9), agter.
'n Familievriend troos Woensdagoggend Breyton se ma, Christina Botha. Foto: Kristy Kolberg
Virgill Gericke het die gemeenskap van Proteapark Sondagmiddag toegespreek.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'