GEORGE NUUS - Pryse en toekennings wink vir vanjaar se deelneemers aan die vyfde Eskom Ekspo vir Jong Wetenskaplikes van die Eden/Karoo-streek.
Leerders van skole oor die hele streek, van gr.6 tot gr.12, neem deel aan hierdie uitstalling wat op 3 en 4 Augustus by die Nelson Mandela Universiteit (NMU) se George-kampus plaasvind.
Die publiek het op Saterdag 4 Augustus 'n geleentheid om van 14:00 tot 15:00 die projekte in die Furntech-sentrum op kampus te besigtig en die prysuitdeling vanaf 16:00 tot 17:30 in die ouditorium by te woon.
Verskeie pryse asook spesiale toekennings word deur Eskom en NMU toegeken. Diegene wat 'n goue medalje verower dring deur na die Internasionale Wetenskap-kompetisie wat in Oktober in Johannesburg gehou word.
"Leerders kon kies vanuit 24 afdelings en moes met in diepte navorsing en innoverende ideas vorendag kom," het Sonet Strydom, 'n organiseerder, gesê. "Verskeie slypskole is vanaf Februarie in die distrik gehou om leerders met hul projekte te help sodat dit aan die ekspo se standaarde voldoen. Beoordelaars word ook met die nodige opleiding toegerus."
Die beoordeling van die projekte vind oor twee dae plaas en op Saterdag 4 Augustus word die finale puntetellings deur die beoordelaars bekend gemaak. Verlede jaar het leerders nege goue medaljes ingepalm.
Beoordeelaars van verlede jaar se streeksekspo hard aan die werk.
Volgens Strydom is inskrywings van sover as Prins Albert, Oudtshoorn en Mosselbaai ontvang. Die sluitingsdatum vir die ekspo was Maandag 23 Julie.
"Organiseerders ontvang egter heelwat oproepe oor die hele streek met 'n versoek om uitstel van 'n dag of twee. Finale getalle van die hoeveelheid inskrywings sal eers later bekend wees, aangesien al die skole se inskrywings nog nie ontvang is nie," het Strydom gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'