GEORGE NUUS - Die 13-jarige Nadia Horr stel komende Saterdag en Maandag haar elektroniese klavier op by die Garden Route Mall om vir besoekers musiek te maak ten bate van hawelose katte in die Tuinroete.
Nadia wil met haar musiekklanke geld insamel vir Cat Assistance Team (CAT), 'n plaaslike organisasie wat hulle ontferm oor wilde en hawelose katte.
"Nadia speel graag klavier en wou die talent wat sy van die Here ontvang het, gebruik om geld in te samel vir ’n instansie,” vertel Tertia, Nadia se ma.
"Omdat sy ook 'n groot liefde vir diere het, het ons via Alani Voight, bestuurder van Tuiniqua-versorgingsentrum, vir Coriza Vermeulen van CAT Garden Route opgespoor om te hoor of ons hulle kan help. Hulle doen ongelooflike werk.”
Tertia sê die Garden Route Mall was baie tegemoetkomend toe hulle van Nadia se plan hoor en sy het drie tydgleuwe gekry om by die restaurantvleuel van die mall op te tree.
Tydens haar eerste optrede die afgelope Woensdag het mense reeds donasies in CAT se geldblikkie gegooi en Nadia is baie opgewonde oor die ondersteuning.
Sy speel weer komende Saterdag, 21 Desember van 13:00 tot 14:00, en Maandag 23 Desember van 12:00 tot 13:00.
Nadia doen ’n beroep op diereliefhebbers om hul hande en harte oop te maak en CAT so te ondersteun.
Sy het vanjaar klaargemaak by Laerskool George-Suid en begin volgende jaar haar hoërskoolloopbaan by Hoërskool Outeniqua.
VIDEO: Luister na Nadia se klavierspel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’