GEORGE NUUS - Oor 'n maand van nou kan liefhebbers van uitvindings en wetenskap by Hoërskool Outeniqua gaan loer wat leerders van ons streek vir die 10de Eden Karoo Ekspo vir Jong Wetenskaplikes ontwerp het.
Hierdie streekskompetisie van Eskom vier vanjaar 'n dekade van innovering en idees van leerders regoor die streek, wat met sorg deur kundiges geskaaf en ontwikkel is.
Die struktuur van vanjaar se kompetisie lyk ietwat anders as gewoonlik. Leerders was verplig om aan verskeie distriksekspo's deel te neem om 'n plek in die streekskompetisie te verseker. Híér is projekte wat aan die vereistes voldoen, geïdentifiseer en uitgenooi om aan die streeksbyeenkoms deel te neem.
"Ons sien uit na die sowat 100 projekte vanuit die streek wat na die byeenkoms uitgenooi is," het Sonet Strydom, administratiewe assistent, gesê.
Hierdie projekte moet teen middernag 15 Julie aanlyn registreer - met alle vereiste dokumente opgelaai - om in ag geneem te word vir die kompetisie.
Op Vrydag 26 Julie sal leerders die geleentheid kry om hul projekte uit te stal. Beoordelaars sal punte toeken vir die inhoud van die projekte en op Saterdag 27 Julie persoonlike onderhoude met die deelnemers voer. Wenners sal in 13 kategorieë benoem word.
Die publiek word uitgenooi om die uitstalling op Saterdag 27 Julie vanaf 12:30 by Outeniqua Hoërskool se Volschenk-saal te besigtig.
Die publiek word uitgenooi om die leerders se uitstallings op Saterdag 27 Julie vanaf 12:30 by Outeniqua Hoerskool se Volschenk-saal te besigtig. Foto: Pexels
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’