Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEOS - 'n Hele sleepwa én die kattebak van 'n minibus, propvol blikkieskos, is eersdaags op pad na Victoria-Wes om die boeregemeenskap by te staan in hul tyd van nood.
Leerders van Laerskool George-Suid het fluks gewerk om hierdie inisiatief van South African Water Warriors (SAWW) te ondersteun.
Hulle ruim donasie is verlede Donderdag, 5 Augustus, deur 'n welkome reënbui geseën. Bestuurslede van SAWW het die donasie in ontvangs geneem.
Die mikpunt is om op 21 Augustus alle donasies, insluitend kos vir vee, na Victoria-Wes te neem. "Ons is besig met 'n uitreik na boere en hul plaaswerkers en beoog om gebottelde water, voer vir die diere en kos te neem - ons wil vir hulle wys dat daar mense in die land is wat nog omgee," het Pieter du Plessis, die streekverteenwoordiger vir SAWW, gesê.
"Dit is vir ons 'n riem onder die hart om te sien hoe die kinders van Laerskool George-Suid saamwerk om 'n verskil te maak. Ons daag ander skole uit om dieselfde te doen om ons boere te help."
Kyk 2 video's hieronder:
Laerskool George-Suid het die inisiatief 'n stappie verder geneem, en 'n veldtog met die tema "I can" van stapel gestuur. Kinders het plakkate volgens dié tema gemaak, wat die woordspeling illustreer: "blikkieskos" (a can), asook "ek kan..." (I can).
Zander Rischmüller (gr 6) help sy maats om die donasies te laai.
Skoolhoof Sas du Plessis het verduidelik dat die skool graag hiermee vir die leerders wou demonstreer dat 'n positiewe gesindheid 'n mens hoë hoogtes kan laat bereik: "Dis 'n belangrike boodskap wat ons vir kinders in vandag se tye moet gee - ek kan. Jy moet jouself oortuig dat jy iets kan doen, al lyk dit nie altyd moontlik nie. Dit is deel van ons waardes by die skool," het hy gesê.
Die skool se berader, Tronel van Rooyen, het gesê die kinders leer dat hulle 'n verskil kan maak in hul eie en ander se lewens deur hul denkpatrone in 'n positiewe rigting te draai.
Fotogalery: Jong 'warriors' help boere in nood
• Donasies kan afgegee word by Tavcor George. Vir inligting kontak Pieter du Plessis by 076 844 6435.
Jovan Heyns (links, ondersteuner), Pieter du Plessis (streekorganiseerder) en skoolhoof Sas du Plessis.
"Ons kan help!" Help die boere en hul werkers van Victoria-Wes met kos- en waterdonasies.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'