GEORGE NUUS - Die jong man (22) wat Maandagmiddag in spitstyd in Hoopstraat raakgery is, het gisteroggend in die George-hospitaal gesterf.
Hy is naby die kruising van Bousfield- en Hoopstraat deur 'n wit Isuzu-bakkie raakgery terwyl hy die pad oorgesteek het.
Volgens sers. Michael Opperman, George-polisie se kommunikasiebeampte, dui voorlopige inligting daarop dat die oorledene sekondes voor die ongeluk na bewering in 'n bakleiery met sy vriende betrokke was.
"Volgens ooggetuies het die oorledene en sy vriende gestry waarna een van hulle hom glo geklap het. Hy het weggehardloop in die rigting van Hoopstraat en voor 'n wit Isuzu-bakkie beland." Paramedici van Eden 911 was gou op die toneel om na die slagoffer om te sien wat 'n ernstige kopbesering opgedoen het. Hy is na die hospitaal geneem en het volgens die polisie nie weer sy bewussyn herwin nie.
Die polisie het aanvanklik 'n saak van roekelose en nalatige bestuur geopen, maar die klag is verander na strafbare manslag.
In nog 'n ongeluk Dinsdag 11 September omstreeks 22:00 is 'n man oorlede toe sy motor reg van voor met 'n vragmotor op die N9 tussen George en Uniondale gebots het. Die oorsaak van die ongeluk is onbekend.
In 'n afsonderlike ongeluk vroeër die middag, ook op die N9 naby Waboomskraal, het 'n motor die pad verlaat en gerol. Een persoon is beseer en na die Mediclinic George geneem.
* The 22-year-old man that was injured in an accident in Hope Street during peak
traffic Monday afternoon passed away in hospital yesterday morning, Wednesday
12 September. In another accident on the N9 between George and Uniondale late Tuesday evening around 22:00, a man died after his car collided head-on with a truck.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'