Gallery
GEORGE NUUS - Leerders van George het goed gevaar by die nasionale landboujeugvereniging-kampioenskappe wat van 1 tot 4 Oktober in Bathurst in die Oos-Kaap plaasgevind het.
George-kinders vaar goed by jeugskou
Twaalf leerders van verskillende skole in George het die Westelike Provinsie verteenwoordig in verskillende afdelings. Altesaam 11 provinsies en 450 kinders het deelgeneem.
Tydens die kompetisie skryf leerders ‘n kort eksamen, doen was en voorbereiding, en verdien dan ’n plasing vir die skouman-afdeling.
‘n Totale punt word bereken uit die punte verdien in drie afdelings.
Suiwelbereiding
Zanelle Kuyler (Hoërskool Outeniqua) het ‘n vyfde plek in die seniorafdeling behaal en het ook die perfekte Ricottakaas voorberei.
Danielle Smal (Hoërskool Outeniqua) het ‘n algehele derde plek behaal en was eerste in die skouman vir juniors.
Thegan Kuyler (Laerskool Blanco) was algeheel eerste in die junior-junior-afdeling.
Deelname in die suiwelafdeling was ‘n eerste vir die Westelike Provinsie by die nasionale kampioenskappe en hierdie leerders het hul vernuf deeglik gewys.
Kulinêre kuns
In die seniorafdeling van kulinêre kuns het Nashief Koeries en Andrea Nelson (Olympia Skool) baie goed gevaar en onderskeidelik ‘n vyfde en sesde plek verower.
Bian van As (Laerskool George-Suid) was algeheel derde in die juniorafdeling en Jané Louw, ook van Laerskool George-Suid was sesde.
Jané het ‘n pluimpie verdien met die heerlikste, perfek gekookte uiemarmelade wat sy voorberei het op die skou.
Laerskool George-Suid was ook goed verteenwoordig in die junior-junior afdeling waar San-Marie Havenga en Vinkie van der Walt onderskeidelik eerste en tweede plek behaal het.
Die junior-junior-afdeling het pizzas gemaak en hul kreatiewe idees het van hulle die wenspan gemaak.
Die vierde plek in hierdie afdeling behoort aan Miekie van der Walt van Montessori.
Een van die leerders in aksie by die kampioenskap.
Konyne en wedvlugduiwe
In hierdie afdelings het Lehandri Havenga (Laerskool George-Suid) die WP verteenwoordig met haar konyn,
Snowflake en JJ Fourie van PW Botha Kollege se besondere kennis van wedvlugduiwe het aan hom ‘n vyfde plek besorg.
JJ se kennis van die wedvlugduif is uitgesonder deur beoordelaars.
Die Westelike Provinsie het as oorwinnaars uit die 2017- kampioenskap getree en die leerders van George kan trots wees op hul bydrae tot die provinsie se oorwinning.
Die volgende streekskou in die Westelike Provinsie vind reeds hierdie naweek plaas op Sandringham tydens die Livestock Ekspo.
Leerders wat belangstel in jeugskou as sport, kan Susan Willemse of Dennis Schley skakel by 082 881 3305/6.
ARTIKEL EN FOTO'S: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'