Update
GEORGE NUUS - Ofskoon 'n lang pad nog voorlê, vorder pogings van inwoners van Tuiniqua-versorgingsentrum om self 'n nuwe bussie vir die sentrum te koop.
Inwoners het sowat R7 000 ingesamel met die onlangse aanbied van 'n komedie, Dominee op Appro. Hulle het ook vroeër 'n bietjie geld ingesamel met pannekoekverkopings.
Sowat R100 000 word benodig om 'n bussie te koop wat gebruik sal word om inwoners te vervoer.
Die skrywer van die komedie is Coenie Ritter, 'n inwoner van die sentrum. Ritter het die stuk drie jaar gelede in die George-kunsteteater aangebied as Reverend on Appro en het dit toe later in Afrikaans herskryf en aangepas.
Die akteurs was oorwegend inwoners en 'n personeellid het ook gehelp. Daar is sedert Februarie voorbereidings gedoen. Die stuk is beskryf as een van die genotvolste komedies wat uit die pen van 'n plaaslike skrywer aangebied is.
Ritter het aan die George Herald gesê 'n mens moet êrens begin. Daar kan nie van die sentrum verwag word om 'n bussie te koop nie.
Nog pogings is in die pyplyn om geld in te samel sodat die bussie uiteindelik gekoop kan word. So byvoorbeeld word 'n verskeidenheidskonsert beplan wat later vanjaar sal plaasvind. Die inwoners sal weer betrokke wees.
Daar word gehoop dat dié keer meer inwoners betrokke sal wees by die aanbieding.
Na die aanbied van die komedie was daar baie lof. 'n Inwoner van George wat dit bygewoon het, het onder meer geskryf dat Ritter asseblief nie moet ophou skryf nie.
"Ons was 'n groepie van sewe wat dit bygewoon het en ek weet nie wanneer laas het ons so heerlik gelag nie.
"Die 'komplot' was uitstekend saamgestel en selfs plek-plek heeltemal geloofwaardig. Jy (Ritter) het die arme dominee se lompe pogings om die vroue die hof te maak, skitterend vertolk en dit reggekry dat, alhoewel hy regtig 'n arrogante vent was, ons almal tog gewens het hy moet uiteindelik die vrou kry wat hy gesoek het.
"Jou preek was natuurlik die hoogtepunt en ons moes soms ons lag inhou om nie van die skreeusnaakse momente te mis nie. Jy is goed ondersteun deur Sarona Lategan en Leentjie Nell terwyl Sarie Lessing ook vermelding geniet. Die manne het ook hul deel gedoen om dit 'n genotvolle aand te maak."
Lees 'n vorige artikel: Tuiniqua bied opvoering aan om nuwe bussie te koop
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'