GEORGE VERMAAKNUUS - Inwoners van Tuiniqua-versorgingsentrum rol sommer self moue op om 'n nuwe bussie vir die sentrum te koop.
Aanstaande Woensdag word 'n komedie, Dominee op Appro, aangebied. Geld wat ingesamel word sal gebruik word vir die aankoop van die bussie om inwoners te vervoer. Sowat R100 000 word benodig om 'n bussie te koop.
Die skrywer is Coenie Ritter, 'n inwoner van die sentrum. Ritter het die stuk drie jaar gelede aangebied in die George-kunsteteater as, Reverend on Appro en het dit nou in Afrikaans herskryf en aangepas.
Die akteurs is oorwegend inwoners en 'n personeellid help ook. Daar is al met die voorbereidings in Februarie begin.
Die stuk word beskryf as een van die genotvolste komedies wat uit die pen van 'n plaaslike skrywer aangebied is. In kort gaan dit oor 'n (geskeide) leraar wat 'n proeftydperk van 30 dae (op appro) in 'n kleiner gemeente moet deurbring.
In die proses kan hy die gemeenskap deurkyk en besluit of hy wil voortgaan met sy aansoek en natuurlik kan die kerkraad ook finaal besluit of hulle hom wil beroep.
Daar is egter 'n kinkel in die kabel. Die kerkraad soek eintlik 'n getroude paar en is dit 'n voorwaarde dat hy binne ses maande moet trou.
Hy gooi wild flikkers by die vroue in die gemeente en trap in proses op 'n paar manne se tone. Om van hom ontslae te raak, dokter hul sy water voor sy laaste preek, met skreeusnaakse gevolge.
Daar is 'n middagvertoning om 15:00 en 'n aandvertoning om 19:00 in NG kerksaal, Kerkstraat George.
'n Voorprogram word ook aangebied waar van die ander inwoners aan deelneem.
Kaartjies is beskikbaar by Tuiniqua by 044 874 5760 en ook by die deure. Verversings is tydens pouse te koop.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'