GEORGE NUUS - Dit is nie almal wat kan sê dat 'n aalwyn na hom/haar vernoem is nie. Iemand wat dit wel kan doen is Ben Engelbrecht van George. 'n Groot eer het hom onlangs te beurt geval en die aalwyn, Aloe xengelbrechtii, dra nou sy naam.
Die 70-jarige Engelbrecht is 'n man wat voor sy aftrede diep spore in bosbou en tuinbou in Suid-Afrika getrap het.
Hy was onder meer landgoedbestuurder by die Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin en kurator van die Karoo Nasionale Botaniese Tuin en die Vrystaatse Nasionale Botaniese Tuin. Hy was ook adjunk-direkteur van menslike hulpbronne by Sanbi (Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut).
Prof. Gideon Smith en prof. Estrela Figueiredo, twee kollegas in die department botanie van die Nelson Mandela Universiteit, Port Elizabeth, het die aalwyn na Engelbrecht vernoem.
Smith het Maandag aan George Herald vertel dit is 'n normale proses om plante wat nog nie benaam is nie van 'n wetenskaplike naam te voorsien.
"Dit vergemaklik kommunikasie wêreldwyd aangesien plante net een korrekte wetenskaplike naam kan hê. In hierdie geval is die aalwyn na Ben Engelbrecht vernoem. Hy het deur 'n lang loopbaan in bosbou, tuinbou en institusionele administrasie 'n groot rol in plantkunde in Suid-Afrika gespeel.
"Die aalwyn dra sedert 19 Oktober 2020 Engelbrecht se naam en dit was 'n plesier om so aan hom erkenning te verleen."
Ben Engelbrecht en sy vrou, Elize. Foto: Eugene Gunning
Engelbrecht het self nog nie die aalwyn gesien nie en Smith sal wanneer die geleentheid hom voordoen 'n plant aan hom besorg. Volgens Smith is die aalwyn 'n kruising tussen twee aalwynsoorte. "Dit was 'n spontane kruising waar die ouerplante saam groei. Dit is 'n winterblommende, kransgroeiende aalwyn wat goed teen 'n vertikale oppervlak aard."
Engelbrecht het benadruk hy is nie 'n plantkundige of 'n plantfundi nie. Hy was verbaas. "Ek het in my wildste drome nooit gedink so-iets sou gebeur nie."
Hy beskou dit as 'n groot eer en kan nie wag om die aalwyn in lewende lywe te sien nie "Ek wag nog vir hom."
Prof. Gideon Smith (links) en prof. Estrela Figueiredo (regs), twee kollegas in die department botanie, Nelson Mandela Universiteit, Port Elizabeth, het Aloe xenglebrechtii na Ben Engelbrecht vernoem.
Vanweë sy beroep voel hy sterk oor bewaring en dis 'n passie. Hy het nie 'n spesifieke plant voorkeur nie. Daar is 'n wye spektrum van plante in Suid-Afrika en die uiteenlopendheid van die plantegroei regverdig die navorsing wat gedoen word.
Iets wat 'n bron van kommer vir hom is, is die omvang van plante wat in die natuur om die verkeerde redes uitgehaal word.
In sy vrye tyd doen hy graag houtwerk.
So lyk Aloe xengelbrechtii.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'