GEORGE NUUS - In George is jy 'n "inkommer" as jy nog nie sewe jaar in die dorp bly nie. Daarna mag jy maar sê jy is 'n Georgiet. Dit beteken natuurlik nie jy mag nie intussen jou lyf "Georgiet" hou nie.
Oorkant Laerskool George-Suid, in Laingstraat, is daar 'n piepklein koffiewinkel waar ma's en pa's gereeld stop vir 'n koppie goeie koffie na en voor skool.
Oor die afgelope twee jaar was dit baie opmerklik dat heelwat ouers wat vir verversings stop splinternuut is in die dorp. Hoor jy hulle praat, dan weet jy sommer: hulle kom van die noorde.
Vriendelike mense, mooi mense, mag ek weer sê, vriendelike mense? Binne 'n ommesientjie word daar maats gemaak. Geselsies strek oor dae, want dit hervat weer môreoggend. Almal kry 'n bynaam.
So gesels ons nou kort tevore oor die migrasie na George - die George boom. Die een ma vertel van 'n WhatsApp-groep in Wilderness vir migrante, sy ken minstens 20 mense wat binne die laaste twee jaar hierheen verhuis het.
Van die ouers woon buite die dorp in Heroldsbaai, Groot-Brakrivier, Wilderness en Sedgefield, maar hul kinders gaan hier skool. Sommige werk in die dorp, ander het 'n eggenoot wat byna weekliks na Gauteng vlieg.
Daar was juis twee wat 'n vlug moes haal en nie kon bly vir 'n vroegoggend foto nie.
Hoekom trek hulle hierheen? Die antwoorde is min of meer dieselfde: die lewenstyl en natuurskoon, goeie munisipale dienste, goeie staatskole - in kort, 'n beter gehalte lewe. "Ons kinders kan nog fietsry," het die een ma gesê. "Hier is dalk nie geld nie, maar hier is soveel meer," het 'n pa gesê. Hy weet glo van heelwat sakelui wat nog nie hul besighede kon skuif nie, maar liefs pendel.
Intussen drink ons koffie, gesels en maak nuwe vriende. Baie van ons was immers inkommers.
Zandile Fanteso (links) en Annemarie Breitenbach (albei met rooi T-hemde) van die koffiewinkel Roo'bea saam met 'n groepie nuwe inwoners: van links is Zanelle van der Westhuizen (van Secunda), Dion Martin (van Pretoria), Monali Kamffer (van Pretoria) en (regs agter) Monja Williams (van Pretoria). Foto's: Michelle Pienaar
Verwante artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'