TUINROETE NUUS - Die Tuinroete is een van drie distrikte in die Wes-Kaap waar groepe gevalle van ingewandskoors sedert 2020 aangemeld is.
In die distrik is 12 gevalle sedert 2020 tot op datum aangemeld met die eerste geval in Augustus 2020 en die mees onlangse geval in Desember 2021.
Volgens Nadia Ferreira, distrikswoord-voerder vir die Wes-Kaapse gesondheids-departement, was daar sewe bevestigde gevalle die afgelope ses maande.
In die Kaapse Metro is 14 gevalle aangemeld (die eerste in November 2020 en mees onlangse geval in Januarie vanjaar), en in die Kaapse Wynlande is 11 gevalle aangemeld (die eerste in Julie 2020 en mees onlangse geval in Mei 2021).
Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NICD) is dit nie waar dat besmette munisipale water die oorsaak is van huidige gevalle van ingewandskoors in sekere dorpe nie.
Daar is geen bewyse dat onlangse gevalle van ingewandskoors met besmette munisipale water in enige deel van die land verband hou nie, of dat die bakterieë wat ingewandskoors veroorsaak onlangs in munisipale waterbronne gevind is nie, het die NICD Maandag in 'n verklaring gesê.
Dit sluit die distrikte in die Wes-Kaap in waar groepe gevalle geïdentifiseer is.
Die Wes-Kaapse departement van gesondheid het ook bevestig dat daar nie kommer oor waterveiligheid is nie, want in gebiede waar watermonsters (munisipale en onbehandelde water) geneem en getoets is, kon ingewandskoors nie geïsoleer word nie.
Die departement het gesê voortdurende waarneming, deeglike gevallebestuur en kontakopsporing word gedoen wanneer gevalle geïdentifiseer word. Alle onlangse individuele gevalle en groepe word tans ondersoek.
Daar word ook deeglik gekyk na kos-bronne, water en sanitasie. Gesondheids-bewusmaking in die gemeenskappe word ook gedoen.
Genoombepaling dui op plaaslike oordrag
Volgens die departement het genoom-volgordebepaling van ingewandskoors-isolate deur die NICD gewys dat spesifieke stamme ('strains') verantwoordelik is vir die verskillende groepe gevalle in die drie distrikte in die Wes-Kaap. Dit beteken dat die gevalle in elke distrik verwant is en dat plaaslike oordrag plaasvind.
Uitbrekings van ingewandskoors vind jaarliks gedurende hierdie tyd van die jaar plaas te midde van 'n toename in diarree.
Nasionaal is 31 gevalle in 2020 by die NICD aangemeld, 48 in 2021, en sewe in 2022.
Behandeling en simptome
Ingewandskoors word met antibiotika behandel. Hospitalisasie kan nodig wees waar iemand baie siek raak.
Die simptome sluit in koors, kopseer, 'n algemene gevoel van ongesteldheid, maagpyn of maagkrampe, naarheid en vomering, hardlywigheid of diarree, 'n uitslag op die maag, en droë hoes.
Simptome kan van drie dae tot so lank as 60 dae neem om te voorskyn te kom nadat 'n mens aan die bakterie blootgestel is, maar gewoonlik raak 'n mens siek binne nege tot 21 dae na blootstelling. 'n Persoon wat die simptome ervaar, moet dadelik mediese hulp kry.
Ingewandskoors kan voorkom word deur goeie handhigiëne, higiëne in die kombuis, en deur te verseker dat huishoudelike water- en sanitasievoorsiening veilig is. Vermy water wat met riool besmet is, en doen weg met doeke en menslike stoelgang op 'n veilige manier.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'