GEORGE NUUS - Hope en hope ou houtsaagsels wat al stof vergader het, is dalk die oplossing vir inwoners se waterprobleme in hul tuine. Die saagsels sou oorspronklik gebruik word vir kragopwekking in George, maar dit het nooit gerealiseer nie.
'n Ambisieuse sakeman van George, Colm Maguire, het te hore gekom van houtsaagsels en self gaan kyk. Dit het in onbruik gelê en al begin ontbind.
Maguire glo dit kan die oplossing wees vir die waterprobleme in inwoners se tuine. Die houtsaagsels kan as organiese deklaag dien.
Maguire, wat oorspronklik van Johannesburg kom en 'n opgeleide genetikus is, het aan planne gedink om water in tuine te spaar. Toe hy in George gekom het, het hy 'n onderneming bedryf wat ys verskaf het.
Deesdae verkoop hy die saagsels. Die saagsels is 'n organiese deklaag. "Dis soos versiersuiker op 'n koek," het hy verduidelik.
Dit word sowat 10 cm dik gestrooi. In die winter hou dit die plante warm en in die somer koel. Volgens hom is daar bewyse dat dit tot 70% water spaar.
Hy benadruk dat dit baie moontlikhede het en goedkoop is. Studies is gedoen wat dui op die voordele vir die landbou. Op een hektaar landbougrond met sonneblom, is tussen 700 kg en een ton geoes. Die deklaag is nie gebruik nie. Waar die deklaag gebruik is, is twee ton geoes.
Nog 'n voordeel is dat dit die impak van erosie verlaag. Dit help ook met die minerale inhoud van die grond. Dit is ook 'n oplossings vir sanderige en kleigrond. In Amerika en Europa word op groot skaal met sukses gebruik.
Sy onderneming word op die oomblik bedryf van 'n perseel in Nelson Mandela-boulevard wat voorheen deur 'n groot groenteverwerkingsmaatskappy gebruik is. Hy sal dit waarskynlik net tot einde Januarie kan benut, want die perseel is verkoop. Dit is 'n gemeenskapsgebaseerde onderneming en hy verskaf werk aan mense.
Finn Rautenbach, bestuurder van die Tuinroete Botaniese tuin, het by navraag gesê die tuin gebruik dit. Dit is ook aangewend by die sirkel in Yorkstraat. "Ons moedig mense aan om dit te gebruik."
Basie Robertson van Nitrophoska, het gesê in die algemeen sal dit water bespaar. Dit moet bo-op die grond gelaat word. Die tipe deklaag speel ook 'n rol. Hoe fyner dit is, kan dit negatief wees. Hoe growwer hoe beter. Dan breek dit nie so vining af nie. Dit is meestal positief. Nog 'n voordeel is dat dit onkruid beperk. Volgens hom is dit reeds met sukses in die landbou aangewend.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'