GEORGE NUUS - Twee takkies met sagte jong blaartjies wat uit die oorblyfsels van die Boom van Samekoms groei, het hoop laat opvlam dat die eens majestueuse Essenhout weer kan uittroon bo Sandkop, Pacaltsdorp, tuiste van die heel eerste inwoners van die George-omgewing.
Die geskiedkundige boom het 'n dekade of wat terug begin agteruitgaan en van sy swaar takke het een-een begin afbreek.
'n Paar jaar gelede het dit finaal die knie gebuig tydens 'n sterk stormwind. Of so het almal gedink.
Dr. Tineke Kraaij, plantegroei-ekoloog by die Nelson Mandela Universiteit se George-kampus, het bevestig dat die jong takkies wat uit die oënskynlik dooie boomstomp groei, wel die begin kan wees van 'n nuwe groot boom.
"Dit gaan natuurlik baie lank neem. Wanneer bome van saad ontkiem, groei dit met 'n enkele stam vanaf die basis en belê al hul energie en hulpbronne in daardie hoofstam.
Hierdie foto is gedateer 2008 toe die boom reeds agteruit begin gaan het.
"As bome egter herspruit, soos in hierdie geval, is daar meestal verskeie nuwe lote of stamme en neem die herspruitende boom meer van 'n struik- of bosvorm aan.
"Dit groei wyer eerder as hoër, want dit belê energie en hulpbronne in die groei van al die nuwe lote eerder as in 'n enkele stam.
"So die nuwe boom gaan waarskynlik wyer en meer rond groei as die boom voor dit geval het.
"Ek glo nie dis nodig vir iemand om in te gryp om te probeer verseker dat die boom oorleef nie. Dit behoort te oorleef."
Die plaaslike historikus, Lynn Thompson, sê die boom se presiese ouderdom is onbekend, maar uit historiese rekords kan afgelei word dat dit reeds in die vroeë 1800's goed gevestig was toe die Duitse sendeling, eerwaarde Charles Pacalt, kerkbyeenkomste in sy skaduwee gehou het.
In 2014 nadat van die takke gesnoei is.
Pacalt het ook 'n skool hier op Sandkop, die hoogste punt in Pacaltsdorp, begin. "Daar is niks op rekord oor die boom voor hierdie tydperk nie."
Thompson meen iemand spesifiek moet die taak kry om die boom te versorg.
Pacaltsdorp-inwoner Sydney Opperman sê sover sy kennis strek, is die boom ongeveer 300 jaar oud.
Een van die nuwe takkies skiet triomfantelik die lug in. Die tweede een kan aan sy basis gesien word. Foto: Alida de Beer
"Kaptein Dikkop se kraal vir sy mense, die Outeniqua, was daar lank voor Pacalt aangekom het.
"Pacalt is een van die grootste hutte aangebied as tydelike blyplek toe hy saam met Dikkop uit Suurbraak ('Xairu' oftewel 'Paradys') aangekom het. Die terrein, wat een van die mees gesogte historiese ruimtes behoort te wees, is erg verwaarloos.
"Die stadsraad van George behoort dringend te kyk na behoorlike omheining en instandhouding as die geskiedenis van die inheemse inwoners van Outeniqualand hulle belangrik is."
Kommentaar van die munisipaliteit het die koerant teen saktyd nog nie bereik nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'