GEORGE NUUS - Die welsynsorganisasie Harmony Spiritual and Emotional Healing Centre het hande geneem met ander sleutelrolspelers in George om dit vir enigiemand moontlik te maak om 'n verskil in ten minste een kind se lewe te maak.
"Harmony het uitgereik na sommige van die sukkelende gemeenskappe in George waar ons die impak raakgesien het wat die lewensomstandighede en dringende behoefte aan voedsame kos op die kinders en jeug het.
"Ons werk aan holistiese oplossings en wil uiteindelik hierdie gemeenskappe in staat stel om meer selfonderhoudend te wees en beter vir die kinders te sorg," sê Liane Venter, Harmony se stigter.
Hulle versprei voedsame koekies en pastageregte wat die Garden Route Food Pantry ontwikkel het. "Hierdie kos verseker dat 'n kind elke dag die nodige voedingswaarde sal kry. Voeding is deel van die basis vir 'n vol en gelukkige lewe."
Venter sê deur samewerking van meer mense kan hulle meer vermag en hulle doen 'n beroep op Georgiete om Harmony se pogings te ondersteun.
"'n Bydrae van slegs R150 maandeliks sal verseker dat 'n sukkelende kind ten minste een voedsame maaltyd per dag kan hê. Ons het die publiek se ondersteuning nodig om dit moontlik te maak," sê Venter.
Adv. Lukas du Preez, 'n afgetrede arbeidsprokureur, het ook sy gewig ingegooi by Harmony en het onlangs 'n suksesvolle blitskursus in arbeidsreg ten bate van die organisasie aangebied wat 'n goeie opkoms gehad het. Hy beoog meer soortgelyke geleenthede.
Mense wat wil hulp verleen aan Harmony, kan Liane Venter kontak by 076 240 2347 of venterliane@gmail.com.
Adv. Lukas du Preez se blitskursus in arbeidsreg ten bate van Harmony Spiritual and Emotional Healing Centre het 'n goeie opkoms gehad.
Honger kinders kry voedsame maaltye van Garden Route Food Pantry.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'