GEORGE NUUS - Diereliefhebbers vanoor die Tuinroete is warm onder die kraag ná 'n video waarin 'n hond deur kinders naby Lawaaikamp mishandel word, Maandag 22 Maart op sosiale media gesirkuleer is.
In die video, wat talle kommentare op die DBV se Facebook-blad tot gevolg gehad het, kan gesien word hoe 'n jong seun 'n hond aan 'n leiband deur die lug in die rondte swaai terwyl sowat nege of tien van sy vriende toekyk.
Die hond waai soos 'n lap deur die lug terwyl die seun in die rondte tol en daar kan duidelik gehoor word hoe die ander kinders hom aanmoedig.
Volgens die Tuinroete-dierebeskermings-vereniging (DBV) se hoofinspekteur, Salomé Bruyns, was daar drie honde Maandagmiddag in dié voorval betrokke.
Sy en lede van haar span is van die voorval in kennis gestel waarna hulle dadelik na Lawaaikamp is om die honde te probeer red en te konfiskeer.
"Ons eerste prioriteit was om die honde te gaan haal. Genadiglik leef almal, maar hulle was baie uitgeput en getraumatiseer.
"Volgens ooggetuies het die seuns hulle aan hul leibande rondgeswaai om hulle te probeer doodmaak, toe dit nie werk nie het hulle die honde teen die sypaadjie gegooi en toe hulle koppe onder water gedruk om hulle blykbaar te probeer versuip," vertel Bruyns.
"Ons moes gister eers die honde na veiligheid bring voor enigiets anders. Maar wees verseker, ons gaan dit nie hier los nie en verdere stappe sal geneem word. Ons is besig om die voorval te ondersoek en daarna sal die nodige stappe geneem word," het 'n vasbeslote Bruyns Dinsdagmiddag aan George Herald gesê.
Sy het Woensdagoggend bevestig dat sy 'n saak van dieremishandeling by die polisie aangemeld het.
Die DBV se Leon Jobs was deel van die span wat saam met Bruyns na die toneel gejaag het.
Hond met kapmes doodgeslaan
Veldinspekteur, Vanessa Lucas, is Saterdagoggend, 20 Maart, na 'n toneel in Rosemoor uitgeroep waar 'n veghond met 'n skerp voorwerp, vermoedelik 'n kapmes, doodgeslaan is.
"Wie ook al dit gedoen het, het die arme hond se senings op sy agterbene eers afgekap sodat hy nie kon loop nie. Daarna het hulle hom doodgeslaan," het Bruyns gesê.
In 'n foto in George Herald se besit kan ten minste sewe oop wonde op die hond se lyf gesien word, asook wonde aan sy nek en kop.
Volgens Bruyns het 'n verbyganger die hond gevind waar hy lewend langs die pad voor 'n huis op die hoek van George Moore- en O'Connellstraat in sy eie poel bloed gelê het.
"Dit moes reeds Vrydag deur die nag plaasgevind het. Hy moes die hele nag in onbeskryflike pyn gewees het. Die eienaar is buite homself," sê Bruyns.
Die DBV is besig om geld in te samel om as 'n beloning aan te bied vir enigiemand met inligting oor die voorval. Vir meer inligting, of om inligting rondom die voorval aan te meld, kan Bruyns by 044 878 1990 bereik word.
Tuinroete-DBV se Elrico Elbrecht (regs) en Vanessa Lucas met twee van die honde op die toneel in Lawaaikamp Maandagmiddag.
Verwante artikel: Dog beaten, hung as 'punishment'
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'