GEORGE NUUS EN VIDEO'S - Leerders wat in Hoërskool George op koshuis is moet tans verlief neem dat daar niks te ete is by die koshuis nie.
Navrae oor die situasie is kort gelede aan die Wes-Kaapse departement van onderwys gestuur, en hul terugvoer word afgewag.
Volgens ontevrede ouers wat vanoggend voor die skool en binne die skoolgronde byeen gekom het, is hulle verlede Vrydag 3 Mei per stemboodskap op hul WhatsAppgroepe hieroor ingelig.
Volgens die stemboodskap van die hoof is die situasie te wyte aan n tekort aan finansies, omdat nie al die ouers bydrae lewer vir die kinders se verblyf nie. Dit beloop R1 300 per jaar.
Blykbaar is baie van die beursvorms ook nie reg ingevul nie, en is dit nog nie na die departement weggestuur nie.
Ouers en kinders voor Hoërskool George vanoggend 6 Mei.
Die ouers is van mening dat dit slegs sowat 50 ouers is wat hulp benodig met die invul van beursvorms. "Dit moes al einde verlede jaar weggestuur gewees het," het Charmonay Ruiters gesê.
Die ouers vereis antwoorde van die skoolhoof, Rodney Cupido, en die departement.
Die ouers en kinders is afkomstig van Waboomskraal, Herold en Sedgefield. Ouers het saam met hul kinders by die skool met placate betoog.
VIDEO: Michelle PIenaar
VIDEO: Michelle PIenaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’