GEORGE NUUS - Dis nie net die toenemende misdaad in George wat inwoners van oor die dorp warm onder die kraag het nie, maar ook die brutaliteit, die tipe wapens wat gebruik word en die hoeveelheid mense, kinders en volwassenes, wat met gevaarlike wapens, ná die aandklokreël, op straat gesien word.
George Herald het die afgelope paar weke talle klagtes van lesers ontvang rakende misdaad in woonbuurte regoor die dorp en die afwesigheid van sigbare polisiepatrollies voor en ná die aandklokreël.
In Pacaltsdorp veral, kla die inwoners oor tieners wat met pangas in die strate rondbeweeg en 'n skrikbewind voer.
Klagtes die afgelope week sluit in 'n jong juffrou van 'n kleuterskool wat op pad na haar werk deur 'n groepie met pangas van haar selfoon beroof is, nog 'n vrou se hond is glo met 'n panga gekap deur 'n groepie seuns wat in die straat geloop het en in Delvillepark het 'n groep seuns blykbaar ook met pangas, kragdrade afgekap.
In Blanco is 'n buurtwaglid verlede Donderdagaand na 22:00 met 'n panga in Maitlandstraat aangeval (lees storie op voorblad) en sowat twee weke gelede is 'n seun van Pacaltsdorp se hand ook met 'n panga afgekap. Verlede maand is 'n agtjarige seuntjie wreed doodgesteek in Thembalethu en in dieselfde week is 'n 14-jarige vasgetrek ná hy na bewering 'n 12-jarige seun in die Conville-gebied doodgesteek het.
Buurtwagte sukkel
Buurtwaglede sit ook met hul hande in hul hare en noem dat hulle dikwels mense op straat ná die aandklokreël skut en gevaarlike wapens soos kapmesse en handgemaakte messe konfiskeer.
"Ons is gesê om die polisie te skakel vir bystand en ons doen dit, maar dit gebeur dikwels dat hulle nie 'n voertuig beskikbaar het om ons van hulp te wees nie. Soms daag hulle baie laat op en soms glad nie," sê 'n buurtwaglid van George.
"Ons verstaan dat hulle onderbeman is en nie oral kan uitkom nie, ons verstaan dat Covid en rusdae 'n rol speel, maar baie keer is daar slegs een voertuig wat 'n hele area, wat verskeie buurte insluit, moet bedien. Ons sien ook dat ons dieselfde mense oor-en-oor laat arresteer vir dieselfde misdade. Die polisie doen hul werk, maar dan word die saak net in die hof uitgegooi of die verdagte word vrygelaat op 'n waarskuwing," sê hy.
George Herald het ook betroubaar verneem dat daar in die verlede 'n buurtwaglid van George glo van ontvoering aangekla is ná hy 'n ongewenste verdagte, wat gereeld in die omgewing oortree, uit 'n buurt verwyder het. "Lede is ook in die verlede aangekla vir verskeie sake weens verskille tussen hulle en verdagtes in hul onderskeie gebiede. "Soms word ons as die misdadigers uitgekryt en potensiële kriminele word dan die slagoffers. Dit net omdat ons ons mense wil beskerm," sê 'n ander buurtwaglid.
Mannekrag 'n nasionale probleem
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, is die hoeveelheid mannekrag tot hul beskikking nie in plaaslike hande nie. "Die voorsiening van personeel is 'n nasionale aangeleentheid wat in samewerking met die parlement deur ons nasionale kantoor hanteer word," sê hy.
Hy sê die handhawing van die regulasies op die Wet op Rampbestuur (aandklokreël) gaan egter steeds voort met die strategiese ontplooiing van beskikbare lede en fisiese hulpbronne in misdaadgeteisterde gebiede. Dit sluit gespesialiseerde eenhede soos die Openbare Orde Polisie-eenheid (Pops), spanne vir die bekamping van misdaad en die K9-honde-eenheid in.
"Hierdie ontplooiing strook met die polisie se benadering om die nakoming van die regulasies binne die inperking af te dwing, sowel as om tot die algemene veiligheid van alle inwoners toe te sien," sê Spies.
Sommige van die wapens wat deur die polisie gekonfiskeer is.
97 vas vir oortreding van aandklokreël
Hy sê daar is tussen 1 en 12 September altesame meer as 97 mense in hegtenis geneem vir die oortreding van die aandklokreël en 23 gevaarlike wapens is uit verskeie gebiede in George gekonfiskeer.
Vyf van die wapens in George, agt in Conville, drie in Thembalethu en sewe in Pacaltsdorp. 60 van die arrestasies vir die oortreding van die aandklokreël is in Conville gemaak, 26 in George, nege in Pacaltsdorp en twee in Thembalethu.
Hy beveel ook aan dat lede van die publiek, sowel as buurtwagte, swak of gebrekkige polisiëring by hul naaste polisiekantoor aanmeld. Kriminele gedrag moet ook by Stop Misdaad op 08600 10111, of via die MySAPS-toep, aangemeld word.
"Die polisie waardeer die bydrae wat die buurtwagvrywilligers lewer en die rol wat hulle speel in pogings om misdaad te bekamp. Die ontplooiing en patrollies daarvan moet egter gedoen word in ooreenstemming met relevante voorskrifte, in samewerking met die polisiekantoor in die onmiddellike omgewing. Voorts word buurtwagstrukture versoek om interne platforms, soos gemeenskapspolisiëringsforums en/of die aangewese sektorbestuurder, te gebruik om griewe in te dien, sodat sulke aangeleenthede opgelos kan word."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'