GEORGE NUUS - Die Covid-pandemie het meeste skole se planne lelik in die wiele gery en kinders se geleenthede ongelooflik ingeperk, maar Henco Bester, 'n gr. 9-leerder van Hoërskool Outeniqua en dramastudent van Trudie Niehaus Woordkuns, het dit as 'n geleentheid gesien om sy vlerke te sprei.
Henco het ingeskryf vir verskeie aanlynkompetisies in drama en sang. Dit sluit in: Conspirito, Jou Groot Talent, ADK, Talent Africa, Podium Pret, Western Cape Virtual Eisteddfod, Dramaweb SA en Op die Planke Monoloog Fees - almal nasionale deelname.
Prestasies
Hy dring deur na die nasionale forte ronde van Conspirito (aanlyn drama en sang), waar hy 96% (poësie), 97% (prosa), 97% (monoloog), 94% (backtrack), 98% (jazz), 98% (film) behaal en word aangewys as die itemwenner in die monoloog en gedramatiseerde prosa, asook al drie sangafdelings, en word genooi na die Prestige-geleentheid op 16 Oktober in Alberton.
Hy kwalifiseer ook vir die nasionale eindronde van Op die Planke Monoloog Fees wat 18 September in Germiston plaasgevind het en behaal 'n derde plek in sy kategorie. Oktober gaan 'n besige maand wees vir die talentvolle Henco.
Hy het deurgedring na die nasionale ronde vir drama en sang van Talent Africa, wat in Oktober plaasvind asook die eindronde van Podium Pret wat volgende maand plaasvind. Plaaslik kon hy darem ook een of twee keer aan Garden Route-eisteddfod en MMADD in Montagu deelneem, waar hy by al twee geleenthede spesiale toekennings ontvang het.
Hy is ook uitgenooi na die Garden Route-eisteddfod se gala-aand in Oktober.
Verder voltooi hy ook twee een-jaar mentorskapprogramme, naamlik Sing Aanlyn en Mentor My, waar die akteur en sanger Germandt Gelderblom en aktrise Jana Nortier as sy mentors optree.
Wat 'n wonderlike manier om vlerke te sprei! In een van die gedigte gebruik hy die woorde "...die absolute waarde van enige getal is altyd positief … EK IS POSITIEF." - 'n positiewe positief, veral vir die tyd waarin ons leef.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'