GEORGE NUUS - 'n Man van George, wat onlangs na Oudtshoorn verhuis het, is op Donderdag 13 Februarie in hegtenis geneem op vermoede van bedrog.
Edward Boshoff (42), wat by 'n huis in Hoogstraat op Oudtshoorn in hegtenis geneem is, het op Vrydag 14 Februarie in die George-landdroshof verskyn.
Volgens George-polisie se kommunikasie-beampte, kapt. Nonlonwabo Tshengu, staan Boshoff tereg op 10 aanklagte van bedrog waarvan die geldwaarde gesamentlik sowat R80 000 beloop.
"Hy het na bewering mense ingedoen deur hulle te laat glo dat hy elektriese hekke of motorhuisdeure sal installeer of herstel. Hy sou 'n deposito neem, maar nooit die werk voltooi nie," het Tshengu gesê.
Boshoff is Vrydag op borgtog van R5 000 vrygelaat.
Hy het Maandag 17 Februarie weer in die hof verskyn waar die saak deur landdros Jasthree Steyn tot 5 Maart uitgestel is.
Mzo Matolengwe is vir die staat en Boshoff word deur Sameegh Jappie van Jappie Prokureurs verteenwoordig.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'