Maryke en haar man, Pieter (31), het op 24 April verlede jaar ewig trou aan mekaar beloof tydens ‘n spoggeleentheid by Tramonto.
Sy sê nes hul verhouding was hul troudag en is hulle huwelik soos ‘n sprokie. Hulle het mekaar nie regtig "ontmoet" nie, maar eerder "gevind".
Die paartjie het mekaar meer as 10 jaar gelede vir die eerste keer gesien toe Pieter, wat vir sy ouers se familiebesigheid werk, matte by hul huis kom lê het.
Beide se ouers besit besighede in Mosselbaai waar hulle tans steeds werksaam is.
Eers ‘n ruk nadat Pieter by hulle aan huis was vir die matinstallasie, het die twee begin uitgaan en kort daarna saam begin reis om die wêreld te verken.
Dit was juis op een van hul reise na Argentinië waar Pieter haar, ‘n dag voor sy 30ste verjaarsdag, gevra het om sy vrou te word. Dit was in September 2009 en toe was hulle reeds sewe jaar saam.
"Dit was so romanties daar in die Carlos Cardel Tango House met die dramatiese musiek, beligting en tango-danse. Ons het al daaroor gepraat, maar ek het nie geweet hy gaan my daar en dan vra nie. Ek het sommer begin huil en onmiddellik ja gesê," vertel sy.
Die paartjie wen verskeie opwindende pryse wat drie nagte se verblyf by enige Southern Sun Hotel insluit, ekonomiese retoervliegkaartjies van kulula.com op enige van hul binnelandse vlugte, aandete by Pomodoro Restaurant, ‘n behandeling en spa-geskenk by Fancourt en twee nagte se verblyf by De Oude Karos Wildernis, om maar net ‘n paar te noem.
Maryke Steyn, en haar man, Pieter.
.jpg)
Maryke (middel voor) saam met die span van Harvey World Travel en van die borge. Agter van links staan Renate Roodt van HWT, Linda Scholtz ( HWT se bestuurder), Werner Pons van Pomodoro, Danielle Shackleton van Bridal Inn en Marita Steyn van HWT. Voor sit Sandra Roodt van Travel Bugs, Maryke Steyn en Caren Ogilvie van Bridal Inn. Foto: Lizette da Silva
Artikel: LIZETTE DA SILVA