Update
GEORGE NUUS - Die Harmony Spiritual and Emotional Healing-sentrum het verlede week hande gevat om nog 'n projek vir die Kersgety by Tannie Mieta Matroos se sopkombuis in Bossiesgif, Rosemoor, te voltooi.
"Tannie Mieta gee drie maal per week vir sowat 50 kinders kos en dit het ons hartsnare só geroer dat ons haar in alle aspekte wou ondersteun en bystaan," vertel die sentrum se Liane Venter.
"Dit het begin met kospakkies wat ons met behulp van 'n paar wonderlike borge kon uitdeel. Daarna het Tannie Mieta 'n skeepsvrag ontvang wat deur 'n weldoener geskenk is vir haar gerief. 'n Braaiplek is ook geskenk sodat sy nie altyd moet buk oor 'n sinkplaat om kos te maak nie," sê Venter.
Die skenkings het egter Matroos se veiligheid blootgestel. Maar met die hulp van 'n plaaslike advokaat, dr. Lukas Du Preez en 'n donasie van Sonet Calitz kon Matroos se erf met houd en nette beveilig word.
"Ons is ook in besonder dankbaar teenoor ons skenkers van pakkies en donasies teenoor die Christmas blessing boxes," sê Venter.
Tannie Mieta en dr. Lukas du Preez saam met van die kinders vir wie sy weekliks kos gee.
Vir die komende jaar beplan Harmony ook jeuginisiatiewe wat 'n lewensvaardigheidsontwikkelingsprogram insluit. Dié program word moontlik gemaak deur People Against Substance Abuse (Pasa) se Freddy Trout en sy broer Wayne.
Enigiemand tussen die ouderdomme van 13 en 18, wat belangstel om dit by te woon, kan Venter by 076 240 2347 skakel.
"Ons wil dankie se vir almal se ondersteuning en graag versoek ons volgehoue ondersteuning vir ons Feed a Child-initiatief. Dit kos slegs R150 per kind per maand en ons het meer as 50 lyfies om te help voer. Saam kan ons meer doen," sê Venter.
Tannie Mieta deel drie keer per week vir sowat 50 kinders sop uit. Foto's: Verskaf
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'