GEORGE NUUS - Hoop is in sig vir haweloses in George. As alles volgens plan verloop sal houtraamgeboue binnekort op 'n stuk grond aan die onderkant van Markstraat opgerig word, wat sal dien as behuising en 'n opleidingsentrum vir haweloses.
Munisipale direkteur van gemeenskaps-dienste, Allen Paulse, het bevestig dat George-raad die huur van die grond aan Cremhog (Christian Rehabilitation Ministries for the Homeless in George) uiteindelik goedgekeur het. Volgens Paulse voldoen Cremhog se jongste aansoek aan alle vereistes.
"Die huurkontrak sal hierdie week aan Cremhog oorhandig word, wat dan deur hulle geteken moet word," het Paulse verlede week bevestig.
André Olivier, bestuurder van Cremhog, het Maandag bevestig dat hulle uitklaring oor twee aspekte in die kontrak benodig alvorens hulle die kontrak teken: "Ons moet net duidelikheid hieroor kry, maar ons het nog nie geteken nie. Dit is tegnies van aard."
Tent opslaan
Talle berigte oor probleme met haweloses in die middedorp het oor die jare heen in George Herald verskyn. Vroeër die week is 'n klagte aangemeld oor haweloses wat tent opslaan in die begraafplaas in Memoriumstraat.
Munisipale mediaskakelbeampte, Athane Scholtz, het by navraag bevestig dat ofskoon daar pogings deur sommige haweloses aangewend is om hul intrek by die begraafplaas te neem, hulle na ingryping deur die munisipaliteit nie meer daar woonagtig is nie.
Aanranding
Olivier het gesê verskeie hawelose persone het oor die afgelope twee weke gerapporteer dat hulle verjaag, verwyder en na bewering aangerand is wanneer hulle van hul plekke in die George-sakekern verwyder is. Hy is blykbaar besig om die kwessie op munisipale vlak aan te roer.
Scholtz het gesê die direktoraat besker-mingsdienste dra nie kennis van hierdie beweringe nie en versoek dat die persone wat moontlik geaffekteer is, met die munisipaliteit in verbinding tree sodat die kwessie ondersoek kan word.
"Enige lid van die publiek, insluitende hawelose persone wat van mening is dat hulle nie reg hanteer word nie, mag 'n klag by die munisipaliteit indien. Indien daar enige prima facie bewyse is, sal daar teen die skuldiges opgetree word," het Scholtz gesê.
Vir meer inligting oor Cremhog, kontak Olivier by 082 551 8900 of stuur 'n e-pos na andre.olivier1962@gmail.com.
Hierdie toneel agter die George-polisiestasie is hopelik een van die dae iets van die verlede.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'