GEORGE NUUS - Kommer oor die toestand van die Gwaiingriviermond se strand in Pacaltsdorp is verlede week aan die George-raad voorgelê.
Dit volg nadat die gewilde vakansiebestemming en kampeerplek onlangs teruggeplaas is in die sorg van die George-munisipaliteit.
In 'n dringende mosie deur PBI-raadslid Virgill Gericke, sê hy geen verbeteringe het sedertdien by die fasiliteit plaasgevind nie.
Gericke was deel van 'n afvaardiging wat die strandfront onlangs besoek het om hul met die toestand te vergewis.
"Ons het ontdek niks is gedoen nie. Inteendeel, hulle sou eers in die volgende week of wat met werk begin," het hy gesê.
"Die bekommernis is dat die kampeerders vanaf die eerste week in Desember verwag word."
'n Amptenaar het glo besluit om 'n swembad op die perseel met sand te vul. Gericke het vrae gevra rondom die proses van die besluit.
"Ons is gister meegedeel dat die toilette vervalle is en nie vir die komende seisoen benut sal kan word nie," het hy gesê.
"Ons wil weet wie neem verantwoordelikheid vir die projek en hoe gaan ons dit bestuur? Die strand is in 'n haglike toestand en dit is skokkend om te sien dat ons mense in die feesseisoen sulke omstandighede moet beleef."
Volgens Gericke staan die toestand van Gwaiingriviermond in skrille kontras teenoor Herolds- en Victoriabaai.
"Ek is laat gisteraand vertel dat as daar nie toiletpapier by die toilette in Victoriabaai is nie, moet die beamptes in hulle bakkies klim en na die munisipaliteit ry om toiletpapier te gaan haal.
"Word die strand in Pacaltsdorp verwaarloos omdat dit oorwegend bruin mense is wat van die strand gebruik maak?"
Opkikkerplanne vir strand
DA-hoofsweep, Nxolisi Nyakati, het voorgestel dat terugvoer oor die projek gegee word. Waarnemende munisipale bestuurder, Walter Hendricks, het bevestig dat die strandoord die vorige dag (28 November) besoek is, en dat R500 000 beskikbaar gestel is om verbeteringe aan die onderste kampeerarea aan te bring. Volgens Hendricks is dinge nie so erg soos wat aan die raad voorgestel is nie.
"Die toilette werk. Ons is besig met projekte wat binne die volgende week sal gebeur. Daar sal ligte by die strand wees, ekstra storte en sementwerk."
Keith Langeveldt (links) en DA-raadslid Cecil Noble voel sterk oor die belange van Pacaltsdorpers.
Hy het erken dat hy self gevra het dat die swembad vol sand gegooi word, aangesien hy vir die veiligheid van die kampeerders verantwoordelik is.
"Die swembad is vervalle, dit kan nie reggemaak word nie." Hendricks het gesê die swembad kan altyd later vervang word indien die publiek die behoefte tydens 'n publieke deelname proses aandui.
DA-raadslid Cecil Noble, het op 'n punt van inligting gesê dat dinge regtig baie moeilik raak.
"Verlede jaar het dieselfde dinge gebeur. Twee weke voor die seisoen begin het, het die ouens begin met voorbereidingswerk. Dit is die eerste keer dat ek van 'n projekplan hoor," het Noble gesê.
"Ek gaan eerlik wees op hierdie platform. Ek is 'n verteenwoordiger van die Pacaltsdorp-gemeenskap.
"Hoekom is dit altyd dat wanneer dit kom by dienslewering by die strand, ons altyd agter is? Ons laat ons gemeenskap in die steek wanneer dit kom by Gwaiingriviermond. En ek sal dit op enige vlak sê."
ARTIKEL & FOTO'S: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'