Mnre. Mark Green, Rodney Volkwyn (senior superintendent: lisensie-afdeling), Piet Junies (superintendent: lisensie-afdeling) en Charles Joubert (toetsbeampte) se spesiale verlof hou verband met mev. Estie Standers, die burgemeester se vrou, se rybewys wat onlangs na bewering foutiewelik uitgereik is.
Joubert, wat vroeër die jaar aangestel is, het vermoedelik ‘n fout op die toetsbaan gemaak deur die punte verkeerd op te tel en sodoende het mev. Standers geslaag. Dit was egter eers toe haar toets op die eNatis-sisteem ingetik is, dat die fout opgetel is en getoon het dat sy die toets met 'n punt of twee gedruip het.
Een van die bewerings is dat die nodige stappe nie geneem is nadat die fout uitgewys is nie, maar dat dit later deur van die seniors ontdek en aan die provinsiale moniteringseenheid van die Wes-Kaap gerapporteer is. Die eenheid was twee weke gelede hier vir ‘n besoek en ‘n oudit is by die verkeersafdeling gedoen. Mev. Standers se rybewys is glo toe ook teruggetrek.
Die George-munisipaliteit wou Dinsdag nie bevestig of die moniteringseenheid wel hier was vir 'n oudit van die lisensie-afdeling nie, of wat hul bevindings was nie. Alle rybewysdokumentasie is glo ook geoudit.
Mnr. Trevor Botha, die munisipale bestuurder, het by navraag gesê die persone waarna verwys word is slegs op spesiale verlof geplaas vir ‘n tydperk hangende ‘n ondersoek.
"Juis omdat daar ‘n ondersoek hangend is, kan die George-munisipaliteit geen verdere kommentaar lewer nie."
Die George Herald het vertroulik verneem dat daar gistermiddag 'n skorsingverhoor gehou is, waar die vier amptenare redes moes aanvoer waarom hulle nie geskors moet word nie.
Ingeligtes is egter van mening dat Joubert 'n menslike fout begaan het, maar dat hy nou die sondebok is.
"Dis 'n geval waar mense bang was om hul werk te doen omdat dit die burgemeester se vrou is. Die wat wel hul werk wou doen is dalk gedreig dat hulle hul werk sal verloor. Daar was maar baie inmengery," het 'n ingeligte gesê.
• Intussen het Mario Giewelaar, voorheen onderbestuurder van die verkeersafdeling, Maandag weer teruggekeer nadat hy aangestel is as die nuwe senior bestuurder vir verkeersdienste en wetstoepassing. Dit blyk 'n nuwe pos te wees onder die munisipaliteit se organogram. Giewelaar het in April verlede jaar afgetree, nadat hy vir 28 jaar aan dié afdeling verbonde was.
* George Traffic Chief Mark Green, Rodney Volkwyn and Piet Junies, both senior officials at the George licensing department, and Charles Joubert, a driver's licence examiner, were all put on special leave after a blunder with the issuing of a driver's licence for Mayor Charles Standers's wife, Estie Standers. Joubert allegedly made a mistake when adding up Mrs Standers' test and passed her. However, when the test document was fed into the eNatis System, it was discovered that she had failed by a point or two. It is alleged that some of the officers involved had not followed the correct procedure after discovering the mistake. The mistake was also identified during an audit of the licence department by the provincial monitoring unit two weeks ago. Mrs Standers' driver's licence was allegedly also revoked.

Verkeershoof, Mark Green - spesiale verlof.
Piet Junies - spesiale verlof.
ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'