GEORGE NUUS - 'n Vyfjarige seuntjie van Touwsranten se uitstappie na sy grootmaakouma het in 'n nagmerrie-ondervinding geëindig toe hy erge bytwonde opgedoen het in 'n aanval deur 'n buurman se drie groot honde.
Die voorval het op Vrydag 25 September plaasgevind toe Bevin Wyngaard huis toe gestap het ná 'n gebruiklike besoek aan sy ouma, Catherine Wyngaard, wat twee huise van hulle af woon.
Sy pa, Bevil, sê die honde behoort aan bure aan die oorkant van die straat. "Daar was 'n paar ooggetuies. Blykbaar was die drie honde nie agter hul heining nie. Hulle het Bevil bestorm en toegetakel.
"Een van die omstanders het na die tyd gesê hulle het aanvanklik gedink die honde is bo-op 'n ander hond, maar dit was my seun. Die eienares het tussenbeide getree en die honde van Bevin af weggekeer."
Hy het bytmerke rondom sy een skouer en op sy boude opgedoen en was erg getraumatiseer. "Hy het behandeling in die Touwsranten-kliniek ontvang en was die dag na die voorval weer tuis, maar hy het seer gehad en nagmerries gekry.
"Hy is nou beter en is Dinsdag 6 Oktober weer skool toe," sê Wyngaard.
Die betrokke buurman, Nicolaas Mintoor, het bevestig dat hy vyf groot honde gehad het, een boerboel en vier boerboel- Duitse herdershond-kruisings.
Twee van die honde is vroeër deur die Dierebeskermingsvereniging (DBV) weggeneem nadat hulle die Wyngaards se twee honde in afsonderlike voorvalle op hul eie werf aangeval het.
Volgens Wyngaard het dit nie lank voor die aanval op Bevin gebeur nie. "Die tweede hond wat gebyt is moes steke kry."
Van die bytwonde op Bevin se skouer.
Wyngaard sê hoewel hy uiters ontsteld is oor die voorval wou hy nie sy buurman laat vervolg nie, want hy is die enigste broodwinner van die gesin. "My voorwaarde is egter dat hy nie weer kwaai honde aanhou nie."
Mintoor het by navraag gesê hy is baie jammer oor die voorval.
"Ek het seergekry toe ek sien hoe Bevin gebyt is. Soos ek dit verstaan, het my vrou met die motor by die garage ingetrek toe die drie honde deur ons bure se erf by hul hek uit is die straat in, en dis toe hulle Bevin aangeval het.
"Ek besef dinge kon baie anders uitgedraai het as dit nie vir my buurman was wat ons tegemoetgekom het nie. Ek wil myself nie weer in so 'n situasie bevind nie."
Salome Bruyns, bestuurder van die Tuinroete-DBV, het bevestig dat die drie honde wat Bevin aangeval het, verwyder en uitgesit is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'