GEORGE NUUS - ‘n Voorstel vir ‘n nuwe komposfasiliteit vir George en die herwinning van bourommel word voorlopig heroorweeg.
Tuiniqua raadgewende ingenieurs is aan die begin van die jaar aangestel om ‘n komposfasiliteit te ontwerp waar groen afval gekompakteer kan word.
‘n Omgewingsimpakstudie is reeds voltooi en die plan was dat die munisipaliteit die terrein moes laat goedkeur, van die nodige infrastruktuur voorsien en daarna op tender sou uitgee om te bedryf.
Die proses is egter nou vir ‘n wyle op ys geplaas aangesien die nuwe energieopwekkingsaanleg in die industriële area dalk die groen afval kan gebruik.
Die beplande aanleg gaan in sowat 10% van George se elektrisiteitsbehoeftes voorsien deur houtsaagsels en ander houtafval en indringerspesies te verbrand.
Omgewingsamptenaar, Giel Goosen moet in opdrag van die raad bepaal of die aanleg die sowat 200 000 ton groen huishoudelike afval ook kan verbrand en vir kragopwekking kan benut.
Indien wel sou die beoogde komposfasiliteit naby die stortingsterrein onnodig wees.
Karl Sieger van MBH Energy wat die verskillende komponente vir die opwekkingsaanleg moet bekom, het reeds vir Goosen op ‘n openbare besigtigingstoer van die aanleg se perseel verseker dat hulle maklik al die huishoudelike groen afval sal kan gebruik. Goosen sê egter hy wil dit deeglik navors en honderd persent seker maak dat dit wel die geval is voor hy aanbeveel dat die oprig van die komposfasiliteit onnodig is.
Sou ‘n komposfasiliteit wel onnodig blyk te wees, sal dit ‘n besparing van meer as R6 miljoen beteken.
Wat bourommel betref is die huidige stortingsterrein reeds tot kapasiteit gevul. George se afval word gekompakteer en na Mosselbaai geneem. Om ‘n gedeelte van die terrein vir bourommel te gebruik kan groot finansiële implikasies hê aangesien verdere gebruik die vlak hoër as die omliggende grond sal maak. Dit kan lei tot stewige boetes. George is die eerste dorp in die land wat krag van ‘n ander bron as Eskom sal bekom.
Die krag is boonop groen, aangesien afvalprodukte gebruik word en rook-emissie glo minimaal sal wees.
Die Sentrale Energiefonds sit agter die projek en die SEF se projekbestuurder, dr. Phindile Masangana hoop om die ekstra krag reeds teen 2012 in die plaaslike netwerk te voer.