GEORGE NUUS - Die gras is nie altyd groener aan die ander kant van die draad nie, maar die onsekerheid en probleme in Suid-Afrika skep geleenthede.
Dit was die boodskap van Piet Mouton, voorsitter van die PSG-groep verlede Donderdag, 1 Februarie.
Hy was die spreker by 'n geleentheid wat deur Louwrens Selzer by The Hawthorn Boutique Hotel gereël is. Selzer reël sulke geleenthede om belangrike rolspelers saam te trek in die streek.
Mouton het 'n paar jaar gelede die leisels by sy pa, die bekende Jannie Mouton, oorgeneem en word beskou as 'n baie invloedryke sakeleier.
Mouton het 'n kort oorsig gegee van die suksesverhaal van PSG en Capitec Bank. Hy het voorts verwys na 'n aantal boublokke vir 'n suksesvolle sakeonderneming.
Dit sluit in:
- Inspirerende en entrepreneurs leierskap,
- 'n Goeie span,
- Bly positief. Hy het verwys na iets wat sy pa altyd gesê het: "Moenie vir my probleme gee nie. Gee vir my oplossings."
- Duidelike kommunikasie met belanghebbendes,
- Kliënte is baie belangrik,
- As jy suksesvol wil wees, moet jy ook 'n mate van geluk hê.
Mouton het gesê 'n vraag wat hy dikwels gevra word, is of dit die moeite werd is om in Suid-Afrika te bly.
Die gemiddelde ekonomiese groeikoers in die nuwe Suid-Afrika was 2,3%. Die laaste 10 jaar was dit 0,8%. Dis te min. Dis moeilik om in sulke omstandighede 'n suksesvolle onderneming te bou as daar nie werklik momentum is nie. Daar is nie natuurlike momentum van agter nie. As die land weer kan kom by 'n groei van 4,4% sal alles makliker raak.
Dit is so dat daar spesifieke probleme in Suid-Afrika is soos elektrisiteit/beurtkrag, infrastruktuur, dienslewering en korrupsie.
Aan die positiewe kant, is die howe wat nog sterk is. Hy het egter bygevoeg dat die Nasionale Vervolgingsgesag versterk sal moet word.
Wat hom betref is die gras nie altyd groener in 'n ander land nie. Hy het al in die buiteland gewoon en gewerk en het 'n idee waaroor dit gaan.
As iemand 'n entrepreneur is en die land wil verlaat moet jy die volgende aanvaar:
- Jy gaan nie die mark totaal en al verstaan nie. Suid-Afrika is 'n ander land as byvoorbeeld Frankryk, Amerika en Australië. Elke land het sy eie intriges. As jy van buite af is verstaan jy dit nie.
- Jy moet kontakte hê. Daar gaan nie mense wees wat jy sommer kan bel nie. Dit gaan 'n rukkie neem. Hier in Suid-Afrika het jy reeds verhoudinge gebou met die banke.
- Die kompetisie daar is erg. Dis nie maklik nie. Daar is baie mense met baie geld.
- Jou lewenskwaliteit gaan agteruitgaan.
Sy voorstel is dat mense hul kinders stuur. Laat hulle gaan kyk. Na hy self oorsee gewerk het, het hy teruggekeer met ongelooflike ondervinding.
Mouton het ook verwys na werkloosheid. Hy twyfel of die koers 40% is. Hy glo dit is aansienlik minder. Daar is florerende sakeondernemings in elke township en mense wat in die informele sektor werk. Volgens hom sou die land in 'n oorlog gewees het as die werkloosheidskoers 40% was.
Hy het verwys na 'n vrou wat in 'n township vetkoeke maak en verkoop. Na koste afgetrek is, het sy tot R40 000 per maand verdien.
Piet Mouton, voorsitter van PSG-groep aan die woord tydens die geleentheid.
Foto's: Eugene Gunning
Die impak van die verkiesing op die ekonomie
Piet Mouton het in antwoord op 'n vraag oor die verkiesing gesê die impak in die aanloop tot die verkiesing sal dieselfde as in die vorige verkiesings wees. Daar sal populistiese uitsprake wees. Dis altyd moeilik as daar in 'n verkiesing ingegaan word.
Dit plaas ekstra druk op die ekonomie. Daar word gekyk hoe stemme gekry kan word.
Hy het groot hoop dat dinge bietjie sal verander.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’