GEORGE NUUS - Die graadsewes van New Dawn Park Primêr kan nou makliker vir hul eksamens leer nadat elkeen toegerus is met 'n pakkie skryfbehoeftes vir hierdie belangrike skooljaar.
Tertuis Simmers, lid van die provinsiale wetgewer en DA-kiesafdelingshoof van George, het aan elkeen van die 140 gr. 7-leerders 'n liniaal, swartpen, notablok en potloodsakkie oorhandig tydens 'n onlangse besoek aan die skool.
Simmers het ook gesorg vir 'n ruim donasie van rugby- en sokkerballe, sowel as waterbottels.
Tydens sy besoek was Simmers aangenaam verras oor die leerders se vriendelikheid en spontaniteit.
"Die skool het 35 onderwysers wat onder baie moeilike omstandighede werk," het Simmers gesê.
"Hulle het 'n paar uitblinkers wat goed doen op hoërskool. New Dawn Park Primêr is een van weinig skole in George waar die omliggende gemeenskap en leerders respek vir hul skool het.
"'n Mens vind dat hier nie oor naweke by die skool ingebreek word nie. Dit is 'n bate vir die gemeenskap en hulle pas dit op."
Die doel van Simmers se besoek was om leerkragte te bedank vir hul harde werk.
Rujin Fleur (middel), 'n leerlingraadslid, ontvang sy skryfbehoeftes van Tertuis Simmers (links). Saam met hulle is die skoolhoof, Pieter Fillies.
"Hulle beteken baie vir die kinders en werk soms onder moeilike omstandighede, gegewe die sosiale omstandighede binne die gemeenskap," het hy gesê.
"Ek het leerders aangemoedig om 'n liefde vir leer te kweek... want die deure van verandering word ontsluit deur goeie geleerdheid en is die beste manier om ons gemeenskappe se toekoms te verander.
"Ons elkeen kan 'n verskil maak deur ons lig te laat skyn... elke klein liggie saam verhelder ons toekoms vooruitsigte."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'