GEORGE NUUS - 'n Matriekseun van Parkdene, wat dit self nie breed het nie, bedryf sedert verlede jaar gedurende die inperking, 'n sopkombuis uit sy ma se huis.
Gustaviano Appels is vanjaar in matriek by Parkdene Sekondêr en vertel hoe hy graag wil help omdat baie mense hul werk verloor het en omdat baie haweloos is. "Die sopkombuis help en voorsien in hul behoeftes," sê hy.
Hy sal wil voortgaan met die sopkombuis, maar besef ook dat sy matriekjaar baie van hom sal verg. Volgens Gustav het hy reeds 'n plan, en sy ma en ouma sal help as hy vasdraai.
Gustav het groot planne vir homself, hy sal graag met jeugdiges wil werk en eendag 'n verkeersbeampte word.
Sy sopkombuis is geregistreer onder Bread for Life Sopkombuise wat mense in Pacaltsdorp en Borcherds van kos voorsien. Gustav kook soms self vir die sopkombuis en dan help sy ouma ook baie gedurende skooltyd.
Hy het voorheen drie dae kos voorsien, maar met die inperking moes hy dit verkort na net een dag per week.
Ook die getal mense aan wie hy kos voorsien, het verminder van ongeveer 230 na 100. Sy hartsbegeerte is om in sy eie gemeenskap met jongmense te werk. Hy glo omdat mense hom motiveer, het hy 'n plig om op sy beurt weer jonger mense te motiveer. Hy glo,
"Soek die Here terwyl hy nog te vinde is, want die tye waarin ons leef is baie kort en boos."
As jy enige donasies vir die sopkombuis wil maak, kontak Gustav by 065 522 6863.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'