Update
TUINROETE NUUS - Die Wes-Kaapse verkeershoof, Kenny Africa, was Dinsdagoggend na sy besoek aan George, onderweg na Kaapstad toe hy in digte mis die verlate voertuig van 'n voormalige polisieman, Melikhaya Mapete (38), langs die Gouritzrivierbrug opmerk. Mapete se liggaam is later die dag na 'n omvattende soektog onder die brug gevind.
Volgens alle aanduidings het Mapete, 'n voormalige polisiesersant, sy eie lewe geneem deur van die Gouritzrivierbrug te spring.
Africa sê Mapete se motor was bo-op die brug, binne die geelstreep geparkeer. Hy het 'n U-draai gemaak en by nadere ondersoek gevind dat die voertuig, 'n Toyota Yaris se deure ongesluit was, dat die sleutel nog in die aansitter was en dat persoonlike dokumentasie en 'n selfoon op die passasiersitplek van die motor gelê het.
Africa het 'n provinsiale verkeersbeampte van Mosselbaai gevra om na Mapete se woning te gaan om ondersoek in te stel. Daar is verneem dat Mapete Maandagmiddag laas by die huis was. Volgens ooggetuies is die voertuig reeds gedurende die nag op die brug opgemerk.
Hy word deur sy vrou en drie kinders oorleef. Teen druktyd was begrafnisreëlings nog nie gefinaliseer nie.
Die oorledene se liggaam is in ruie bosse teen 'n steil krans opgespoor.
Lees 'n vorige artikel: Grootskaalse soektog na brugslagoffer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'