GEORGE NUUS - Hakkiesdraad Hartman soos hy op die verhoog bekend staan, of te wel Pacaltsdorp se eie Jason Hartman, het vanjaar sy eerste groot nominasie gekry.
Hy kom in aanmerking vir 'n Ghoema-toekenning vir Beste Afrikaanse hip-hop-liedjie van die jaar.
Jason voel egter dis nog net 'n steen in die muur van die loopbaan wat hy besig is om te bou. Hy voel dankbaar dat hy op dieselfde vlak as mense soos Hemelbesem, Yoma, Chase Lutron en Early B beskou word, maar hy besef daar is 'n agterstand.
"Hul nasionale profiele is ver groter as myne, hul aanhangers is wyd versprei so ook hul musiek."
Die kunstenaar Hakkiesdraad Hartman is in 2009 gebore, maar Jason se lewe voor musiek, het hom gelei tot waar hy vandag is. Volgens Jason was hy maar altyd op een of ander wyse by musiek betrokke. "Ek het voltyds gewerk, en dan van my eie geld gebruik om konserte te hou waar plaaslike kunstenaars kon optree. Dis ook hier waar ek die aanmoediging gekry het, om self musiek te maak."
Hy glo net soos enige loopbaan moet jy sewe jaar neem om jou voete te vind en om te weet in watter rigting jy wil ingaan. "My volgende stap is om my nasionale profiel te bou. Ek is nie seker hoeveel mense daar buite my musiek ken en daarna luister nie. En ek poog ook om 'n ander trend voor te stel, een waar dit nie gaan oor wie beter is of wie slegter is nie. In my musiek probeer ek stories vertel waarmee mense hulle kan vereenselwig, ek sal skryf oor 'n onderwerp, maar sal nooit kritiseer sonder om 'n oplossing of opsies te gee nie." Jason meen hy weet uiteindelik wie sy mark is, en dis mense wat sal opdaag vir 'n fees waar jy kan sit en luister, maar hy staan nie terug vir meer hoofstroom feeste nie.
Die liedjie waarvoor hy benoem is, Surga Et Insta wat in Engels beteken Arise and shine, is sy ou hoërskool, Hoërskool George, se leuse.
Die beat vir die liedjie het hy by 'n vriend van hom gekry wat dit spesiaal eenkant gehou het. "Ek het vir lank net eers daarna geluister, juis omdat dit spesiaal vir my eenkant gesit is. Ek was regtig geraak deur die vlak van respek en dat hy gevoel het die beat sal net ek justice kan doen." Jason sê dit was ook die eerste keer dat hy 'n liedjie volledig in sy kop geskryf het. Hy het vir 'n lank tyd dit net eers probeer onthou voor hy enigiets op papier vasgelê het.
"Ek wou iets spesiaal met die liedjie doen, en na mense die liedjie gehoor het en die woorde wou weet, het ek dit neergeskryf."
Volgens Jason het die liedjie self gegroei en ontwikkel, en dis hoe sy skool, Hoërskool George, betrokke geraak het. Hy het die skoolkoor genader om die melodie vir die koortjie te doen.
"Ek het die koor eerste op band opgeneem, en toe myself. En daarna is dit deur 'n meestermenger van Mosselbaai gemeng tot die liedjie wat jy nou hoor. Ons het ook 'n musiekvideo geskiet, maar moet nog een dag skiet voor ons klaar is."
Jason sê hy moes self sy werke instuur om in aanmerking te kom vir die toekenning. Hoe dit werk sê hy is dat 'n paneel beoordelaars eerste na alle aspekte daarvan kyk, en dan hul kortlys saamstel. "So die volgende stap is eintlik vir die publiek om te stem vir hul gunsteling." Stemproses het reeds op 14 Maart begin."
Lees ook die artikel oor Claudia Witbooi, Yoma, 'n oudinwoner van George hier. Sy is ook genomineer vir 'n Ghoema-toekenning vanjaar. SMS PV14 na 39952 om vir haar te stem.
Die Ghoema gala-geleentheid vind op 29 April by Emperors Palace se Theatre of Marcellus in Johannesburg plaas en word weer regstreeks op kykNET DStv-kanaal 144 uitgesaai.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'