GEORGE NUUS - Die koningin van Afrikaanse hip-hop, Yoma, keer eersdaags terug na haar tuisdorp, George, om saam met ATKV-Crescendo na aspirantliedjieskrywers te soek.
Die ATKV sê dit maak nie saak in watter genre jy sing of skryf, of in watter styl of met watter aksent jy sing nie, hulle wil dit hoor. Dit kan enigiets van gospel, hip-hop, jazz, reggae, klassieke of kontemporêre musiek en pop wees.
Hulle gaan 'n platform bied aan alle voornemende liedjieskrywer-sangers om hul talente te slyp en hul drome uit te leef. So, kom wys wat in jou steek op 29 Maart van 19:00 tot 23:00 by die Markteater in George.
Mense kan ook daarna uitsien om Yoma saam met haar man, Hemelbesem, te sien in die vertoning Te hard!, 'n produksie van ATKV-Crescendo.
Volgens 'n woordvoerder gaan Yoma op 7 April nie net liedjies van haar nuwe album, Moedertaal, sing nie maar ook die verhoog deel met die talent wat sy help slyp het tydens die oudisies.
Nog 'n boorling van George, Hakkiesdraad, het ook deur die ATKV-Crescendo-oudisies in 2016 sy stem dik gemaak by die KKNK. Hy was ook deel van hul mentorprogram en het onlangs by die KykNET Fiestas opgetree.
Hemelbesem, die ambassadeur van ATKV-Crescendo, en die hip-hopkunstenaars en ATKV-Crescendo-mentors Oxygin en Die Hooflig, sal saam met Whaden Johannes, Hilton Mandela en Jodi Jantjies, drie voormalige ATKV-Crescendo-finaliste, optree.
Die vertoning vind plaas in die George-stadsaal en begin om 19:00. Kaartjies kos R30 en is by die deur beskikbaar.
Vir besprekings of besonderhede oor die oudisies, bel vir Hakkiesdraad by 079 325 1194 of Morné van Staden, projekorganiseerder van ATKV-Crescendo, by 011 919 9091.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'