GEORGE NUUS - Leerders en kollegas van 'n onderwyser van Pacaltsdorp Sekondêr, Danville van Heerden (31), is geskok deur sy skielike heengaan Sondagoggend, 8 Mei.
Van Heerden is vermoedelik in sy slaap oorlede. Volgens sy oudste suster, Zonitha Boesak, was hy glad nie siek nie.
"Ons wag nog vir die uitslag van die nadoodse ondersoek om te hoor wat die oorsaak was," het 'n hartseer Boesak gesê.
Volgens Boesak was haar broer geliefd onder familie en vriende. "Hy het 'n goeie hart gehad."
Hy en sy vrou, Corné is in Desember 2020 getroud.
Van Heerden was 'n boorling van George en het by Heidedal Primêr en Parkdene Sekondêr skoolgegaan voordat hy sy BEd Senior Fase aan die Nelson Mandela Universiteit behaal het. In sy finale praktiese jaar in 2015 het hy as proefonderwyser by Pacaltsdorp Sekondêr begin werk en het daarna by die skool aangebly.
Hy is later permanent aangestel as onderwysers vir gr. 10 tot 12 in die vakke ekonomie, toerisme en ekonomiese bestuurswetenskap.
Die skool se onderhoof, Veronica Williams, sê hy was ook betrokke by rugbyafrigting en buitemuurse aktiwiteite en vanaf 2021 lid van die skoolbeheerliggaam. Met sy dood was hy waarnemende departementshoof van die ekonomie- en bestuurswetenskap-departement.
"Mnr. Van Heerden was baie gewild by sy kollegas en leerders en 'n energieke persoon. 'n Berader is ingeroep om met sy leerders te praat en hulle het agterna boodskappies op die deur van sy klaskamer gaan plak."
Sy suster, Cherollee, het gesê haar broer het 'n passie vir rugby gehad. "Hy was 'n groot, indien nie die grootste 'Banter' op Facebook nie. Vir drie agtereenvolgende jare vanaf 2019 is hy aangewys as rugbyvlogger van die jaar. Hy was die grootste ondersteuner van die Crusaders-rugbyklub. Hy was die lewe van die sportveld."
Van Heerden laat sy vrou, Corné, sy ouers Liza (60) en Damon (64) van Heerden, asook twee susters, Cherollee van Heerden en Zonitha Boesak agter.
'n Gedenkdiens is Woensdag 11 Mei om 19:00 by die Parkdene-sportterrein gehou.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'