Update
GEORGE NUUS - Altesame vier gewapende rooftogte, met 'n ooreenstemmende modus operandi, het sedert Vrydag 9 April in en om George plaasgevind.
Die mees onlangse voorval het gisteroggend, Woensdag 14 April omstreeks 08:15 in Pacaltsdorp plaasgevind toe drie gewapende verdagtes 'n onbekende bedrag kontant en elektroniese toerusting gebuit het.
LEES MEER: Armed robbery at Pacaltsdorp Superette
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, het drie swart mans die Pacaltsdorp Superette binnegedring en die winkelassistente met 'n vuurwapen gedreig.
"Daar was gelukkig geen klante in die winkel in daardie stadium nie. Een van die verdagtes, 'n man met 'n oranje baadjie, het die assistente met 'n vuurwapen gedreig terwyl een van die ander mans die kasregisters leeggemaak het. Die derde verdagte het na bewering buite gestaan om wag te hou. Dit is onbekend hoe hulle van die toneel gevlug het," sê hy.
Twee winkels op een aand beroof
Op Maandag 12 April was daar twee afsonderlike voorvalle van gewapende sakerowe in die omgewing.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het vier mans kort voor toemaaktyd, omstreeks 19:00 die aand, Yorkers Superette & Take Aways in Yorkstraat in die middedorp beroof.
"Vier swart verdagtes, waarvan twee gewapen was, het die winkel binnegegaan en die assistente gedreig voor hulle met 'n onbekende bedrag kontant, selfone en sigarette gevlug het," sê hy.
Die bekende Yorkers Superette & Take Aways in Yorkstraat is Maandagaand naby toemaaktyd beroof. Foto: Kristy Kolberg
Volgens een van die assistente het alles in 'n oogwink gebeur. "Dit was 'n kwessie van 'n paar minute toe is als verby," sê hy. Die verdagtes het na bewering met 'n wit Toyota Quantum-minibus in die rigting van die middedorp gevlug.
Enigiemand met inligting rondom die voorval word gevra om die ondersoek-beampte, sers. Andile Baxa by 044 803 4762 te kontak. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.
Sowat 'n uur later, tussen 20:00 en 21:00 dieselfde aand, word beweer dat vier gewapende swart mans 'n winkel op die hoek van Boog- en Golfstrate in Parkdene, beroof het.
Volgens Pojie was die twee winkelassistente alleen toe die vier verdagtes hulle met vuurwapens gedreig en oorval het.
"Die verdagtes kon daarin slaag om met 'n onbekende bedrag kontant en 'n selfoon van die toneel te vlug. Daar word verder beweer dat skote deur die verdagtes afgevuur is, maar geen beserings is aangemeld nie," sê hy.
Enigiemand met inligting word versoek om die ondersoekbeampte, konst. Jamie Jaftha by 044 8033 302 of Stop Misdaad by 08600 10111 te kontak. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, op die toneel.
Foto's: Kristy Kolberg
Vrou voor haar huis in Cradockstraat beroof
Vrydagaand, 9 April omstreeks 20:00, is 'n vrou na bewering voor haar woning in Cradockstraat in die middedorp beroof.
Volgens Spies, sê die slagoffer dat sy met haar motor voor haar huis stilgehou het toe sy skielik die vier mans langs haar voertuig sien.
"Volgens die slagoffer het die mans die deure van die voertuig oopgedwing en haar handsak sowel as 'n karton sigarette gevat voordat hulle in 'n wit Toyota Quantum-minibus van die toneel gevlug het," het Spies gesê.
Enigiemand met inligting word versoek om die ondersoekbeampte, sers. Lindeni Ndwenkuku, by 044 803 4715 of Stop Misdaad by 08600 10111, te kontak.
Pojie het by navraag gesê die moontlikheid dat die vier voorvalle, asook die twee voorvalle waarin besighede op Sondag 4 April in die Pacaltsdorp-omgewing beroof is, met mekaar verband hou ondersoek word, maar dat dit in hierdie stadium te vroeg is om enigiets te bevestig.
Hy het wel bevestig dat al die besighede wat in dié voorvalle betrokke was aan buitelanders behoort.
Geen ernstige beserings is tydens enige van die voorvalle aangemeld nie.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'