GEORGE NUUS - George-polisie ondersoek 'n besigheidsroof ná 'n rooftog Maandagaand, 13 Junie, omstreeks 20:00, by 'n winkel in Laingstraat plaasgevind het.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, sê die voorlopige ondersoek toon dat minstens vyf verdagtes, waarvan een 'n vuurwapen gehad het, die winkel binnegekom het en die kassiere met 'n vuurwapen gedreig het om die kasregister oop te maak.
"Die verdagtes het met 'n onbekende bedrag kontant, 'n groot hoeveelheid sigarette en twee selfone te voet van die toneel gevlug. Niemand is nog in hegtenis geneem nie," sê Spies.
George-speurders doen 'n beroep op die publiek om na vore te kom met enige inligting wat kan lei tot die inhegtenisname van die oortreders.
Enigiemand met inligting kan die ondersoekbeampte, sers. Lindini Ndwenkuku, by 044 803 4756 of Stop Misdaad by 08600 10111 kontak.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'