Update
GEORGE NUUS - Die verhoor van Patrick Muller (40), die man van Rosemoor wat daarvan beskuldig word dat hy in 2019 'n jong ma van New Dawnpark, Bianca Matroos (26), vermoor het, het Maandagoggend, 8 November, in die rondgaande hooggeregshof in George voortgegaan.
Muller is op 24 November 2019 in hegtenis geneem, enkele dae nadat Matroos se liggaam op 17 November in 'n veld by die George Riding Club gevind is.
Die saak is verlede Woensdag uitgestel ná Muller se regsverteenwoordiger moes onttrek weens dood in sy familie. Senior Advokaat Johan Visser is intussen as Muller se verteenwoordiger aangestel. Maandagoggend het twee mans van Le Vallia, Enzol Jacobs en Henzel Davids, agter die getuiebank ingeskuif.
Albei het in hulle getuienis aan die hof genoem dat hulle die beskuldigde kort na 05:00, die Vrydagoggend voor Matroos se lyk gevind is, langs Knysnaweg raakgeloop het toe hulle vanaf Le Vallia na CTM onderweg was. Muller het in die teenoorgestelde rigting as hulle gestap.
LEES MEER: Riding Club murder trial starts in High Court
Hulle het nie die oorledene geken nie, maar geweet wie die beskuldigde is.
Tydens Jacobs se getuienis het die hof gehoor hoe die beskuldigde aan die twee mans vertel het dat hy pas daardie oggend van Hoekwil af teruggekeer het ná sy vriende hom glo daar gelos het. Volgens Jacobs was daar modder op Muller se elmboë, knieë en voor op sy hemp. Sy foon was ook stukkend.
Volgens Visser het sy kliënt gereeld Mujo's Bar & Restaurant in Knysnaweg toe gegaan om sy meisie te sien.
Davids het aan die hof gesê dat die beskuldigde uit die rigting van die Garden Route Mall gekom het toe hulle hom in Knysnaweg tussen Le Vallia en CTM raakgeloop het. Hy het hulle glo vertel hoe hy die vorige aand in Hoekwil gekuier het en dat hy moes ryloop en stap om by die huis te kom ná sy vriende van Borcherds hom gestrand gelaat het.
Volgens Davids het die beskuldigde bruin Grasshopper-stewels, 'n rooi hemp en 'n beigekleurige langbroek aangehad. Volgens Davids was Muller se skoene nat soos dié van iemand wat deur nat gras geloop het.
Maandagmiddag het Sefaans Juries van Rosemoor, agter die getuiebank ingeskuif. Gedurende sy getuienis het die hof gehoor dat hy saam met sy neef se seun, die beskuldigde en 'n onbekende meisie op Donderdagaand, 14 November, by Club Nitro Lounge (Nitro) in die middedorp was.
Op pad huis toe vroeg die volgende oggend (Vrydag 15 November), het Juries die voertuig naby Busy Corner in Rosemoor gestop om 'n draai te loop. Toe hy terugkom het al drie sy passasiers ook buite die voertuig gestaan.
Volgens hom het die beskuldigde gesê hy sal self by die huis kom en hy en die onbekende meisie het agtergebly. Vandaar is Juries en sy neef se seun glo huis toe.
Juries het aan die hof vertel dat die beskuldigde die daaropvolgende Maandag by hom was en vir hom gesê het dat die meisie wat saam met hom was, saam met twee ander mans in 'n voertuig met 'n CF-registrasie geklim het en dat 'n vrou se lyk naby Kraaibosch gevind is.
Matroos se liggaam is daardie Sondag in die veld gevind en polisie het destyds gesê dit wil voorkom of sy wreed vermoor en verkrag is voordat sy daar gelos is.
Muller het nie 'n borgtogaansoek gebring nie en is sedert sy inhegtenisneming in aanhouding.
Die saak dien voor regter Elize Steyn en advokaat Evadné Kortjé is vir die staat.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'