Update
GEORGE NUUS - Na flink optrede deur die plaaslike polisie is 'n gesteelde voertuig verlede Woensdag 30 Mei binne 12 ure opgespoor. Twee tienerseuns (17 en 18) het die lang arm van die gereg ontmoet toe hulle kort na die voorval in verband met die motordiefstal in hegtenis geneem is.
Op Woensdag 30 Mei, terwyl Johan Cronjé tussen 09:00 en 13:00 in die dorp besig was, het daar na bewering twee verdagtes by sy huis op 'n plaas naby die lughawe ingebreek en die sleutel van sy Toyota Land Cruiser-stasiewa, asook ses biere, gesteel.
Toe Cronjé by die huis kom was sy gunsteling voertuig skoonveld.
Al vier die polisiestasies in die George-bedieningsgebied is in kennis gestel en elke beampte op bystand is gevra om vir die voertuig uit te kyk. Die twee jong verdagtes is omstreeks 20:30 daardie aand in Nelson Mandela-boulevard (Conville) in hegtenis geneem na 'n polisiebeampte die voertuig in Beachweg (Pacaltsdorp) opgemerk en agtervolg het.
Die verdagtes het verlede Vrydag in die George-landdroshof verskyn en die voertuig is, met min skade, terug aan die eienaar besorg.
"Ek wil net weereens dankie sê vir almal wat gehelp het met die vinnige opspoor van my voertuig. Die voertuig is 'n ou 2006 Land Cruiser VX 100 met maar net 62 590 km op. Ek geniet hom baie en hy's mooi opgepas. Die sentimentele waarde oorskry die geldwaarde by ver.
Johan Cronjé is maar al te verlig om sy gunstelling voertuig terug te hê.
"'n Baie spesiale dank aan Kristy van die George Herald vir haar vinnige hulp met die verspreiding op sosiale media en die polisie se vinnige en knap werk met die opsporing van my voertuig," het Cronjé gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'