GEORGE NUUS - Die voormalige bestuurslid van die politieke party die PBI, Plaaslike Besorgde Inwoners, se tak in Macassar in Kaapstad, win glo regshulp in nadat die president van die party, George-raadslid Virgill Gericke, na bewering versuim het om sy werkers te betaal. Gericke ontken alle aantygings en noem die eise "absurd en belaglik".
Die storie het ook 'n draai by 'n Kaapse poniekoerant gemaak.
Volgens Katherine Cloete, wat sedertdien die party verlaat het, het Gericke nie werkers van die party vir hul werk in Macassar op verkiesingsdag (8 Mei) betaal nie.
Sy beweer daar is ook beloftes aan kiesers gemaak, dat hulle probleme met elektrisiteit, toilette en behuising aandag sal kry indien hulle vir die party stem. Cloete beweer ook dat die weeklikse stipend wat Gericke betaal het, te min was en dat lede hul eie geld moes gebruik vir vervoer en kos.
"Lede soek nou geld by my," het Cloete gesê.
Sy reken Gericke skuld vir haar en ander werkers van die PBI in Macassar sowat R12 000 in totaal.
"Hy het dit vir ons baie, baie moeilik gemaak en ek win regsadvies in oor die saak," het sy gesê.
Katherine Cloete
Eise is 'onsin'
Gericke het aan die George Herald gesê die PBI beskik oor formele strukture waar Cloete haar klagtes kan aanmeld. "Sy verkies egter om sensasie in die media te soek en my naam persoonlik te beswadder. Hierdie is 'n partyaangeleentheid en nie 'n persoonlike aangeleentheid nie. Ons bevestig dat alle gelde betaal is, en indien daar enige uitstaande kwessies is, moet dit deur die party strukture hanteer word," het Gericke gesê.
Gericke het voorts gesê hy is in kontak met die voorsitter van die PBI se Kaapse-tak, wat hierdie eise as onsin afmaak.
"Die party het nooit enige individu die mandaat gegee om kostes namens die PBI aan te gaan nie. Die PBI kan nie aanspreeklik gehou word vir kostes wat aangegaan is sonder goedkeuring nie. Ek het weekliks betalings aan die werkers gemaak en gereeld versoek dat die name van die werkers aan my verskaf word. Die lys wat aan my verskaf is, is aan die einde van die verkiesing gestuur en kon gevolglik nie geverifi eer word nie. Ek voel misbruik. Hierdie is absolute afpersing nadat die geldkrane opgedroog het," het Gericke gesê.
Geen 'afrondingsvergadering'
Katherine Cloete het gesê sy is nie kwaad nie, maar bitter teleurgesteld. "My huis was die hoofadres vir die party in die Kaap. Mense wil by my weet wat gaan nou aan. Ek het ‘n afrondingsvergadering gesoek om net te weet waarnatoe nou na die verkiesing. Ons het hom nooit weer gesien nie, hy het nou alle kontak met my verbreek," het sy gesê. "Mense bly my vra na al die beloftes wat gemaak is. Mense het in ons geglo. Na hierdie ding wil ek niks meer met die politiek te doen hê nie."
Volgens Gericke het die PBI 'n beginselbesluit geneem om mense landswyd by al hul takke aan te stel wat vrywillig gedurende die verkiesing werk. "Ek het egter persoonlik besluit om hierdie mense in die Kaap te help, omdat hulle baie behoeftig is. Nou byt dit my aan die hakskene," het Gericke gesê. "Dit is vir my verbasend dat al die mediahuise se bedrae wat glo geskuld word, hemelsbreed van mekaar verskil. Dit maak hierdie eise absurd en belaglik." Oor die "beloftes" het Gericke gesê elke party het 'n manifes waarvolgens hy die verkiesing bemark.
"Die opname in Macassar het getoon dat daardie behoeftes prioriteit moet geniet, wanneer ons die verkiesing sou wen. Hierdie is nie lukraak beloftes om slegs stemme te werf nie. Die PBI glo aan regverdigheid en billikheid en lê 'n swaar premie op die regte van arm en behoeftige mense, daarom sal ons niemand in enige proses benadeel nie."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'