GEORGE NUUS - 'n Oud-Pacaltsdorper Matthew Fortuin, staan 'n kans om gekies te word in die gewilde Varsitybeker-reeks se speler van die reeks. Hy is ook genomineer a die beste agterspeler van die reeks.
Mense kan nog tot Donderdag 18 April om 21:00 vir hom stem.
Daar is alreeds vroeër 'n blink toekoms vir hom op die rugbyveld voorspel. Op die oomblik speel hy vir die NWU Arende se eerste span.
Hy is 'n oudleerder van Hoërskool Outeniqua (Kwaggas) en sy ouers Mary-Ann en Jose Fortuin woon steeds in Pacaltsdorp. Hy studeer sedert die begin van verlede jaar aan die Noordwes-Universiteit.
Die rugbygogga het hom as jong kind gebyt toe hy nog by Laerskool George-Suid was. Aanvanklik het hy as skrumskakel begin speel.
Hy het onder meer die o. 12 SWD-skolespan gehaal en het ook skool gegaan by Hoër Landbouskool Oakdale.
In gr. 11 is hy na die Kwaggas gelok waar hy in 2019 gematrikuleer het. Na skool was hy eers by die WP-rugbyakademie (WPRA) en het later ook vir die OP en Griffons se o. 20-spanne uitgedraf.
Hy was in 2023 ook deel van NWU se Varsitybeker-span wat die beker gewen het. Hy het ook al die o. 21-span van die Luiperds gehaal.
Maandagaand, 15 April, het hy as senter vir die NWU Arende in die halfeindronde van die Varsitybeker teen Ikeys uitgedraf. Ikeys het die wedstryd gewen met 32 - 18. Fortuin is ongelukkig kort voor die einde van die wedstryd beseer.
Matthew Fortuin (middel) van NWU tydens die 2024 Varsitybeker-wedstryd tussen Maties en NWU by die Danie Craven-stadion. Foto: Varsity Cup Facebook-blad
Sy ma, Mary-Ann, het Dinsdag gesê hulle as ouers is baie trots op hom. Hy het in 'n kort tyd baie opgang gemaak.
"Ons hou duim vas vir hom en is baie dankbaar vir al die ondersteuning wat hy in George kry."
Sy het 'n beroep op mense gedoen om vir hom te gaan stem.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’