GEORGE NUUS - 'n Boorling van George, plantkundige dr. Brian du Preez, het 'n reusebydrae gelewer tot plantkunde deur die afgelope vier jaar saam met medewerkers 140 spesies van die genus Indigofera te versamel.
Vyftig van hierdie monsters is nuwe spesies wat nog nooit voorheen beskryf is nie. Drie van die nuwe spesies kom uit die Outeniquaberge.
Du Preez het hierdie grootse taak in 2019 aangepak vir sy PhD wat hy onlangs aan die Universiteit van Kaapstad verwerf het. Hy het nege van die nuwe 50 spesies in sy tesis beskryf.
Sy studiearea was die hele Kaapse Flora-streek (KFS), van die Richtersveld tot by Gqeberha, maar hy het tot so ver as Aliwal-Noord gereis om daar 'n nuwe spesie te gaan haal waarvan al die naaste verwante spesies in die KFS voorkom. Hy het honderde kilometer te voet afgelê en berge uitgeklim in sy soektogte. Nege van die 50 nuwe spesies sal beskryf word gebaseer op sy tesis.
"Al wou ek al die nuwe spesies in die PhD-tesis insluit, sou dit te veel werk gewees het, en ek moes as deel van die PhD nuwe kennis tot die wetenskap bydra, daarom het ek na die biogeografie (geografiese verspreiding) en evolusie van die morfologiese eienskappe in die genus gekyk."
Die onbeskryfde Indigofera vlokii wat na die botanis Jan Vlok vernoem is.
Die res van die 50 spesies sal oor die volgende jaar in wetenskaplike tydskrifte soos South African Journal of Botany gepubliseer word. Die laaste gepubliseerde hersiening van Indigofera in die Kaapse Flora-streek was in 1862.
Du Preez, wat in Holy Cross Primary en Glenwood House School was, het na skool 'n nasionale diploma en BTech-graad in natuurbewaring aan die Nelson Mandela Universiteit in George verwerf voordat hy sy BSc Honneurs in biodiversiteit en ekologie en 'n MSc in plantkunde aan die Universiteit Stellenbosch behaal het.
Hy het sy voltydse doktorale studies aan die Universiteit van Kaapstad in 2019 begin, net voor die Covid-pandemie wat verhoed het dat hy vir maande nie in die laboratorium of herbarium kon kom nie.
"'n Besoek aan die KEW-herbarium in Londen is ook met amper twee jaar uitgestel. Dit het wel beteken ek kon meer tyd op veldwerk spandeer, wat baie voordele vir my ingehou het en bygedra het tot die sukses van my navorsing," sê Du Preez.
Die Geissorhiza seracina wat dr. Brian du Preez ontdek het.
Harde werk, maar pret
"Veldwerk is vir my groot pret al is dit harde werk. Al het ek nie self 'n nuwe Indigofera-spesie ontdek nie, het ek 'n klomp skaars spesies self gevind, insluitend een in die Kamiesberge wat slegs bekend was uit een versameling 111 jaar vantevore. Ek het ook deur my veldwerk minstens twee nuwe spesies in ander genusse ontdek, en twee spesies wat as uitgesterf geklassifiseer is, herontdek. Dis net bewyse van hoe belangrik veldwerk is, en hoeveel daar nog is om te ontdek. Ons ken steeds nie ons hele KFS nie, al loop plantkundiges vir meer as 300 jaar hier rond."
Du Preez sê om met 140 monsters op een slag te werk is 'n massiewe taak.
"Om elkeen van hulle in die veld te gaan vind, is amper onmoontlik. Maar die sukses van hierdie projek is grootliks te danke aan my veldwerk. Ek het nie self 'n nuwe Indigofera-spesie in die veld ontdek nie, maar deur die veldwerk en al die versamelings wat ek gemaak het, kon ek nog meer nuwe spesies identifiseer as wat ons gedink het daar sou wees aan die begin van die projek."
Hy het die werk van dr. Brian Schrire oorgeneem, wat grootliks die fondasie van sy hersiening gelê het. Schrire het uitgetree na 'n akademiese loopbaan van 40 jaar, maar het aangebly as Du Preez se mentor wat saam met hom op Indigofera werk.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’