GEORGE NUUS - 'n Teruggetrokke padskraperoperateur van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, André Mouton (44), is een van 16 stadsjapies wat te sien sal wees in die tweede seisoen van kykNET se Plaasjapie-reeks.
Daar is R1 miljoen op die spel en André, 'n Georgiet, kom te staan teen manlike en vroulike deelnemers van uiteenlopende agtergronde, ouderdomme en persoonlikhede in die stryd om die geld syne te maak. Hulle moet boer soos in die ou dae, met die minimum toerusting.
André, 'n gesinsman, sê die plaaswerk was taai, maar die emosionele sy van die ervaring was vir hom 'n groter uitdaging om mee te deel. Hy was vir 'n lang tyd heeltemal afgesny van sy gesin.
Hy is al 18 jaar getroud met Karen en hulle het twee dogters, Kate (17) en Andrea (13). "Ons mag geen kontak met die buitewêreld gehad het nie. Die TV-span het darem kontak met jou familie behou."
Hy het ingeskryf om homself uit te daag en uit sy gemaksone te kom. "Ek wou iets aanpak wat ek nog nooit voorheen gedoen het nie. Ek wou ook vir my kinders wys dat 'n mens enigiets kan probeer as jy die nodige wil en deursettingsvermoë het."
Hy is in Prieska in die Noord-Kaap gebore en getoë en het 24 jaar gelede na die Tuinroete verhuis waar hy aanvanklik as algemene werker met die graaf en pik gewerk het.
"Ek dink my agtergrond het tot 'n mate gehelp met Plaasjapie. Ek is gewoond aan werk in hitte en stof."
Hy beskryf homself as "stil, skaam en teruggetrokke". "Die outjie wat agter in die klaskamer gesit het en teruggestaan het vir ander persone om eerste te gaan. Selfs al het ek geweet ek kan dinge doen, het ek teruggestaan en was ek tevrede met bloot die gedagte dat ek dit kan doen."
Tydens die aansoekproses vir Plaasjapie moes hy video's van homself instuur en aanlynonderhoude doen. Die 16 deelnemers is uit honderde aansoekers gekies.
Toe die tyd vir verfilming in Oktober aanbreek, is hy weer Kaap toe gevlieg. Die deelnemers het vir twee dae in 'n hotel gebly, maar het nie van mekaar geweet nie.
"Jy moet in jou hotelkamer bly en word geblinddoek wanneer 'n chaperone jou neem vir sessies waartydens jy ingelig word oor die proses. Jy word geblinddoek na die plaas geneem, so jy weet nie waarheen jy gaan nie. Eers op die plaas word die blinddoek afgehaal en maak jy met die ander deelnemers kennis."
Hy sê die ergste vir hom was om tussen vreemde mense op 'n vreemde plek te wees, met die miljoen almal se hoofdoel.
"Ons het mekaar 'n bietjie verkeerd opgevryf, maar uiteindelik besef ons moet saamwerk en die fokus verskuif van elkeen vir homself na die groep, sodat ons gedoen kon kry wat ons veronderstel was om te doen. Ons het moeilike dinge reggekry.
"Ek het hier weer besef ons Suid-Afrikaners is van 'n spesiale stoffasie gemaak en kan saamwerk as dit moet, maak nie saak wat jou geloof of ras is nie."
André op die plaas.
Met geen selfone, radio of TV op die plaas nie, was daar saans baie tyd om te dink. "'n Mens kry kans om stil te raak en introspeksie te hou, en ek het opnuut besef hoe baie familie vir my beteken.
"'n Mens is so besig om 'n bestaan te maak, dat jy nie altyd tyd kry vir jou geliefdes en om waarlik te leef nie.
"Hierdie ervaring het my laat besluit ek wil meer fokus op wat saakmaak. Dit was 'n fantastiese reis, moeilik, maar absoluut die moeite werd. Dit het my sterker gemaak.
"Voedselsekerheid is geweldig belangrik en ek voel geëerd dat ek so 1% kon ervaar van wat ons boere deurgaan om kos op ons tafels te sit."
Sy gesin was in trane van blydskap met sy tuiskoms. "Ek dink my vrou en kinders het ook besef wat ek vir hulle beteken!"
André sê hy voel hy het die Tuinroete gaan verteenwoordig. "Ek dink nie ek het te sleg gedoen nie - ek was darem deel van die program vir 'n paar weke en ek hoop dit plaas die Tuinroete 'n bietjie op die map.
"Ek is beskikbaar vir bemarkingsdoeleindes of om as handelsmerk-ambassadeur vir besighede op te tree en hoop om ons dorp en streek op so 'n manier nog verder te bemark."
Tuinroete-inwoners kan André se ervaring volg vanaf Donderdag 18 April om 20:00 wanneer die eerste episode van Plaasjapie 2 op kykNET begin.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’